-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Met ‘n splinternuwe Graad in kommunikasie was Imogen van Wyk sowat drie jaar gelede reg om die lewe vierkantig in die oë te kyk. Haar hart het terug na haar tuisdorp toe getrek en dit is haar voorreg om nou hier ‘n verskil in baie jong mense se lewens te maak.
Dié dinamiese 23-jarige vrou aan die hoof van ‘n nie-winsgewende organisasie, Mokopane Gold. Sy is die projekbestuurder maar tree ook as hoof fasiliteerder op.
Mokopane Gold is daarop gemik om hoërskoolkinders te help om hul volle potensiaal te bereik, diensbare leiers te wees en ‘n voorbeeld te stel vir ander.
“Ek het besef dat vandag se jongmense doelloos deur die lewe gaan en dit is vir my ‘n passie om hulle te help om hulle lewensdoel te ontdek en hulle toe te rus om dit te bereik,” verduidelik Imogen. “Vandag se kinders – nes hul ouers – is onseker oor die toekoms en ‘n program soos Gold kan hulle toerus en bemagtig om keuses te maak wat ‘n blink toekoms vir hulle en die gemeenskap kan skep .”
“Met die Gold program leer ons skoolkinders dat daar hoop is vir die toekoms en dat elkeen van hulle ’n rol kan speel in hul gemeenskappe,” sê Imogen. “Ons begin met die leerders in Graad 9 en en lei hulle op om leiers te word wat ’n positiewe bydra lewer in hul omgewing.”
Vir Imogen is die Mokopane Gold program ’n hartsaak – sy trek geen salaris nie en maak ‘n bestaan uit die HIIT Revolution Fitness (Bootcamp) wat sy vroegoggend en laatmiddag aanbied. “Mense se oë rek gewoonlik as hulle besef dat ons werklik geen inkomste verdien uit die Gold program nie, maar eerder iets terugploeg in ons gemeenskappe. Die beste belegging wat mens kan maak is in ander se lewens en dit is waar ek kies om te belê.”
“Ek glo dat ek presies is waar God my wil hê,” sê sy, “hierdie is belangrike werk wat ek glo sal uitkring en jongmense sal help om betekenisvolle besluite te maak ten opsigte van hul toekoms.”
Die volgende stap in die program is om meer fasiliteerders op te lei sodat hulle meer skole kan betrek. Tans werk hulle in onder meer Hoërskole Piet Potgieter, Mmadikana (Moshate) en Tji-Tjila (Ga-Matlou).
Imogen glo dat hierdie fasiliteerders dan sal kan help om kinders se gedragspatrone te verander wanneer dit kom by boelies, gesondheidskwessies, dwelm gebruik en ander sosiale probleme. “So lei hulle dan weer nuwe fasiliteerders op sodat die program aanhou uitkring en ons ‘n jeug daarstel wat ‘n verskil in die toekoms kan maak,” sê sy.
Die Gold program maak gebruik van ‘n spesifieke kurrikulum wat reeds 10 jaar in gebruik is in verskeie provinsies. Aangesien dit onder die vaandel van ’n nie-winsgewende organisasie bedryf word, is die projek afhanklik van vrywilligers (soos Imogen) wat bereid is om hulself vir ten minste drie jaar te verbind tot die program.
Imogen bedank die besighede wat reeds bygedra het tot die program, maar hoop om met die samewerking van die Compass Academy of Learning (CAL) in die toekoms ‘n studie geleentheid aan hierdie fasiliteerders te bied. “Besighede wat bereid sal wees om ’n studiebeurs te borg kan ’n groot verskil maak in nie net die fasiliteerder se lewe nie, maar ook in die kinders wat sy of hy mee werk,” sê sy.
Besighede, skole of individue wat in enige manier wil bydra of betrokke raak, is welkom om Imogen te skakel by 015 491 7968.
0 Comments