-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Gedurende ‘n raadsvergadering Dinsdagoggend het verteenwoordigers van Eskom ‘n projek aan die Lephalale munisipaliteit voorgelê waarin die bamboes plantjie dalk die antwoord kan wees op die dorp se ekonomiese ontwikkeling wanneer die Medupi projek tot ‘n einde kom.
Daar was nog nooit twyfel oor die ekonomiese hupstoot wat die bou van Medupi aan Lephalale en die omliggende omgewing gegee het nie, maar inwoners het al begin kopkrap oor wat gaan gebeur as die bouwerk aan Medupi klaar is.
‘n Voorstel is deur Nyosi Tshabalala, die uitvoerende hoof van Eskom, en Sifiso Mazibuko, Medupi se projek bestuurder, gemaak dat een moontlikheid is dat bamboes aangeplant kan word in samewerking met FMT, ‘n internasionale maatskappy wat betrokke is by die vermindering van munisipale afvalstowwe, in die omgewing. “Ons sal die projek begin, die werkers oplei en dan stelselmatig onttrek totdat die hele projek aan die inwoners behoort,” het Jill Varrie van FMT gesê.
Volgens Varrie word die waarde van bamboes grootliks onderskat. “Die plant kan gebruik word om swaelvrye diesel en industriële waks te maak, word gereeld gebruik in die konstruksie van geboue en kan ook as aanvulling in veevoer gebruik word.”
Daar is meer as 1 500 bamboes spesies wat in sommige lande gebruik word om oppervlakwater te suiwer. “Hierdie plant kan in besoedelde water groei en help ook om lugbesoedeling te bekamp.”
Dit kan dalk ‘n oplossing vir die rioolprobleem in Lephalale wees waar die mangate gereeld oorloop. “Ons het die finansiële steun om pyplyne aan te lê van die rioolwerke na die bamboes plantasies en gaan ons ook daarop toespits om ons werkers op te lei in omgewingsbewaring.”
Behalwe vir die positiewe implikasies vir die omgewing is die volhoubaarheid van bamboes plantasies nog een van die voordele wat die projek kan inhou. “Bamboes is een van die plante wat die vinnigste in die wêreld groei en kan vir ongeveer 60 jaar geoes word voordat dit herplant moet word wat beteken dat eienaars van die projek vir ‘n baie lang periode nie uitgawes hoef aan te gaan om te saai nie.”
FMT sal na bewering slegs vir die aanvangsfase van die projek betrokke bly by die plantasies. “Ons uiteindelike doel is om die hele projek aan die werkers en bestuur van die plantasies te oorhandig om self te bedryf.”
Varrie voer aan dat die bamboes projek onmiddellik kan begin as die munisipaliteit dit goedkeur. “Ons is besig om areas te identifiseer waar die plantasies geplant kan word en verkies om dit so naby as moontlik aan die mense te bou wat daar gaan werk.”
Die projek is oor die algemeen positief deur die
raadslede by die munisipaliteit ontvang maar daar is sterk klem gelê dat ‘n noukeurige omgewingsimpak studie gedoen moet word voordat die proses kan begin.
0 Comments