-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Na sowat vier jaar en verskeie operasies het ‘n gewas in Mikayla Robertse (9) se linkerhand genoodsaak dat haar middelvinger geamputeer moet word.
Mikayla was in Desember 2011 in die hospitaal opgeneem nadat ‘n Mosambiekse kobra haar op die plaas, waar hulle buite Lephalale gebly het, gebyt het. Alhoewel sy teengif behandeling ontvang het, het die gif baie skade aangerig. Na talle veloorplantings en operasies het Mikayla nie net baie pyn verduur nie, maar ook terugslae.
Verlede jaar het Mikayla en haar gesin na Pretoria verhuis waar sy baie goed in haar nuwe skool aangepas het. “Kayla se juffrou het my twee weke terug geskakel en gesê dat haar handjie nie goed lyk nie en ek het met haar na Steve Biko hospitaal gehaas waar die dokter eers gedink het dat die middelvingertjie reeds geamputeer was so erg was die swelling,” het Charmain
Robertse, Mikayla se ouma, gesê.
Daar was egter infeksie in die hand en die dokters het besluit om haar eers met
antibiotika te behandel voordat ‘n operasie gedoen kon word. “Dit is vir my hartverskeurend om te hoor hoe my meisiekind huil van die pyn, sy was nog altyd ‘n moedige klein dogtertjie wat haar deur niks laat onderkry nie, maar die afgelope paar dae kan ek sien dat sy regtig baie seer het.”
Mikayla is op ‘n waglys by die hospitaal om ‘n noodoperasie te ondergaan en teen Dinsdagoggend was haar handjie swart verkleur en geswel. “Kayla het vir haar nefie vertel dat die dokter haar vinger gaan afhaal maar dit maak nie saak nie want sy kort dit nie regtig nie!”
Dinsdagmiddag het Mikayla se ouma laat weet dat die infeksie in die vinger steeds erg is en dat die amputasie eers Vrydag gedoen kan word. “Die dokters moet sorg dat haar liggaam reg is vir die operasie voordat hulle kan voortgaan om die vinger te verwyder.”
0 Comments