-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Die onlangse dood van een van Laerskool Bosveld Primary se spog-leerders weens meningokokkale meningitis het die dorp geruk en ouers rasend van bekommernis gelaat oor die moontlikheid dat daar nog kinders kan wees wat die siekte opgedoen het.
Roelf Uijs (11) was ‘n gewilde Graad 6 leerder wat goed presteer het in sport en akademie voordat hy siek geword het. “Ons het die Saterdag vir Roelfie na die noodeenheid by Mediclinic geneem omdat hy gekla het van hoofpyn en die dokter het gesê dat dit moontlik ‘n sinusinfeksie kan wees waarna hy huistoe gestuur is, maar toe hy Sondag nogsteeds kla van hoofpyn het ons geweet dat iets skort en het ons hom weer teruggevat hospitaal toe,” vertel Aske Uijs (23), Roelf se niggie wat by hulle woon.
Roelf se ogie was toegeswel en die dokter het vermoed dat hy dalk deur ‘n spinnekop gebyt is. “Daar is besluit om hom Maandag-oggend na ‘n hospitaal in Pretoria te vervoer.”
Met hul aankoms is verdere toetse gedoen en daar is bevind dat Roelf meningokokkale meningitis het. Kort na sy opname het Roelf se toestand vererger en het sy niere begin ingee. Hy is Maandagaand in die hospitaal oorlede en sedertdien is daar ‘n wolk van hartseer wat oor sy maats en mede-leerders hang.
Die departement van gesondheid het dadelik met die skool in verbinding getree en het besluit watter kinders medikasie moes ontvang. “Die medikasie is deur die departement toegedien en elke leerder het die korrekte medikasie ontvang volgens hul gewig en ouderdom - daar is absoluut geen waarheid in die aantygings wat gemaak word dat daar nie genoeg medikasie was nie,” het ‘n woordvoerder van die skool gesê.
Daar is geen inentings by die skool gedoen nie en die medikasie wat gegee is was slegs as voorkomende maatreël. “Ouers is self verantwoordelik om hul kinders se inentings op datum te hou.”
Roelf is Dinsdagoggend in Alldays begrawe. “As skool het ons bussies beskikbaar gestel vir die kinders wat die begrafnis wou bywoon en het saam met sy ouers getreur oor die wonderlike kind wat ons verloor het.”
Intussen kon Noordelike Nuus nie bevestig hoeveel kinders tans met breinvliesontsteking gediagnoseer is nie vanweë die vertroulike aard van dié aansteeklike siekte, maar twee ouers het wel aangedui dat hul kinders die minder gevaarlike virale tipe meningitis opgedoen het.
“Dit is belangrik dat ouers bewus moet wees daarvan dat hul kinders ingeënt kan word teen hierdie siekte, want dit wat ons as familie deurgemaak het wens ek vir niemand toe nie,” het Aske Woensdagoggend gesê.
Volgens suster Martie Coetzee van Mokopane is kinders min of meer beskerm teen sekere bakterieë wat breinvliesontste-king veroorsaak. “Daar het onlangs ‘n entstof, genaamd Menactra, teen meningokokkale meningitis uitgekom wat ongeveer tien jaar effektief bly. Kinders ouer as twee jaar ontvang slegs een dosis en jonger kinders moet twee dosisse ontvang wat omtrent R800 per dosis kos.”
Indien ‘n kind as baba met Prevenar ingeënt is behoort jou kind beskerm te wees, maar indien dit nie toegedien is nie kan die entstof by die meeste apteke bekom word en kos tussen R790 en R900. Daar is ook ‘n eenmalige pil beskikbaar by staatsklinieke.
Indien jou kind enige simptome wat met meningitis verband hou toon is dit beter om eerder ‘n dokter te besoek.
0 Comments