-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – 'n Babadogtertjie wat in die Mokopane Hospitaal behandel word vir hialienmembraansiekte, ’n toestand wat die suurstofgebruik van vroeggebore babas aantas, veg 'n dapper stryd.
“As daar geloof in jou hart is, kan jy vandag enige probleem die hoof bied,” skryf haar ma, Amelia Visser (19) van Lephalale op haar Facebook-blad. Haar dogtertjie is op 31 Mei sowat drie maande te vroeg gebore. Amelia en haar man, Shaun, was tot einde verlede week baie bekommerd en onseker of hulle 1.4kg baba gaan oorleef omdat haar liggaampie aanvanklik die medikasie verwerp het.
Noordelike Nuus het dié bekommerde mamma Dinsdag by die Mokopane Hospitaal se kraamafdeling besoek en is welkom geheet met ’n glimlag.
“Dit gaan baie beter met Shanika,” het Amelia laat weet. Shanika is in die neonatale eenheid waar sy aan suurstof gekoppel is. Die suurstof is sedert haar opname vandeesweek verminder sodat sy minder afhanklik kan wees daarvan en eerder op haar eie kan asemhaal. Shanika kon eers nie enige melk gegee word nie, want dit het haar sieker gemaak en volgens Amelia het die voeding met die medikasie gebots. Sy het egter vroeër dié week goed gereageer op die medikasie en kry drie uurliks borsmelk.
Amelia was heel in haar skik omdat sy haar poppie Dinsdagmiddag vir die eerste keer in haar arms kon vashou.
Volgens die dokter gaan Amelia en haar baba heel waarskynlik vir ten minste nog ’n maand by die hospitaal moet aanbly.
0 Comments