-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Onvanpaste kommentaar op sosiale media is nie ‘n nuutjie nie en dit is maklik om vinnig ‘n boodskap op Facebook, Twitter of Instagram te plaas sonder om mooi na te dink oor die gevolge wat dit dalk kan inhou.
Onlangs het verskeie insidente op gemeenskapsgroepe op Facebook weer die tonge behoorlik los gehad.
In die een insident was ‘n vrou ongelukkig nadat haar man glo in die vroeë oggendure naby hul huis aangerand is. Emosies het oorgekook en die naam en voertuigregistrasie nommer van die beweerde skuldige is geplaas en gedeel sonder dat die man amptelik deur die polisie aangekla is. In 'n ander insident is 'n man wat van diefstal beskuldig word se foto geplaas, tog dra die polisie nie kennis dat 'n saak gemaak is teen die individu nie. Opmerkings wat geweld aanhits teen die onlangse stakers was wydverspreid.
Alhoewel albei gevalle die skrywers se persoonlike opinies en ervarings weerspieël het is daar ‘n fyn lyn tussen vryheid van spraak en laster of selfs die meer ernstige kwessie van haatspraak.
In ‘n artikel geplaas deur Noordelike Nuus In die sop oor Facebook (18 Julie 2014) het professor Tameshnie Deane wat aan Unisa verbonde was, genoem dat enige uitlatings wat
iemand tot geweld kan aanhits onwettig is.
“Kommentaar op sosiale media kan wyd en ver gesien word en sou ‘n persoon geweld teen ‘n individu of groep aanmoedig en daar later wel geweld gepleeg word, kan die
persoon tot ‘n groot mate verantwoordelik gehou word.”
“Vryheid van spraak, soos wat dit in die Grondwet vervat word, sluit nie haatspraak of rassistiese kommentaar in nie.”
Volgens Deane is haatspraak neerhalende woorde oor individue of groepe gegrond op ras, godsdiens, etnisiteit, geslag of seksuele voorkeur.
Deane het gemaan dat gebruikers van sosiale media netwerke versigtig moet wees met die kommentaar wat hulle lewer.
Die onlangse Penny Sparrow debakel, waarin ‘n vrou 'n uitlating gemaak het op Facebook wat as rassisties beskou is en so ook skuldig bevind is van haatspraak, het mense laat regop sit. Sparrow is duisende rande beboet vir haar Facebook-inskrywing.
In ‘n artikel geskryf deur Anja Hofmeyr, ‘n prokureur by Cliffe Dekker Hofmeyr prokureursfirma, Take caution before posting: social media and defamation (13 Augustus 2015) wys sy daarop dat iemand selfs van laster aangekla kan word as hul net ‘n beledigende opmerking versprei.
“Volgens Suid Afrikaanse wet is nie net die persoon wat oorspronklik die beledigende stuk geplaas het verkeerd nie – selfs deur dit oor te dra of te deel (share) is genoeg om as lasterlik beskou te word,” lees die artikel.
Hofmeyr waarsku ook dat enigiemand wat weet dat hul ‘getag’ is in kommentaar of waar hul naam gebruik word en nie stappe neem om hulself te distansieer van die lasterlike inskrywings nie, ook regstappe in die gesig kan staar.
“’n Reeks kommentaar wat op sosiale media geplaas word en ‘n lasterlike aard kan hê wanneer dit as ‘n geheel gelees word kan ook tot regstappe lei selfs al is die inviduele kommentaar op hul eie nie lasterlik nie.”
Indien daar wel verskoning gevra word op die selfde sosiale media waar die lasterlike kommentaar gelewer is kan dit as versagtende omstandighede gesien word tot die skade aan die slagoffer se reputasie en waardigheid.
Lees Hofmeyr se volle berig deur www.cliffedekkerhofmeyr.com te besoek.
0 Comments