-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Monique Germishuizen (33) is ‘n borrelende pragtige vrou met ‘n aansteeklike liefde vir die lewe, maar haar lewensverhaal bevat donker jare van dwelmmisbruik, gesondheidsprobleme en die plasing van haar geliefde dogtertjie in pleegsorg voordat sy uiteindelik haar lewe ten goede verander het.
Monique is nou al drie jaar lank vry van die dwelmduiwel en woon deesdae in Middelburg saam met haar dogtertjie en 'n nuwe liefde waar sy werk as 'n aktetikster en ook ander dwelmafhanklikes bystaan. "As ek dink aan die lewe wat ek vroeër gelei het is ek elke dag dankbaar vir die lewe wat ek nou het; niemand wil so lewe nie.”
“Ek weet hoe dit voel om op ‘n sypaadjie wakker te word op ‘n koue wintersoggend met nie ‘n sent op jou naam nie, terwyl jou lyf pyn, jy is bang, moedeloos, naby aan selfmoord pleeg en besig om onttrekkingsimptome te ervaar.”
Volgens Monique is daar baie redes hoekom mense verslaaf kan raak aan dwelms. “Dis gewoonlik ‘n kombinasie van sielkundige, emosionele en fisieke faktore. Verkeerde vriende kan iemand vinnig by hierdie donker wêreld betrek terwyl ander mense weer kan begin omdat hulle emosioneel sleg voel en iets soek om van hul sorge te vergeet - min wetende dat wanneer die dwelm se effek uitwerk dieselfde probleme steeds daar gaan wees.”
Dan is daar die fisiese gebruikers. “Ek het baarmoederkanker gehad en was in permanente pyn totdat ek heroïne begin gebruik het. Dit het dadelik die pyn weggevat en my ook uit my omstandighede geneem vir ‘n rukkie, maar om dit te los is absolute hel.”
Volgens Monique is die onttrekkingsimptome van heroïne amper onuithoudbaar seer. “Dit voel asof jy doodgaan en begin met ‘n aanhoudende nies en loopneus, dan kry jy hoofpyn, kort daarna begin die maagkrampe en dan kramp al jou ingewande, later pyn elke been en spier in jou liggaam. Jy weet nie hoe om te lê of te sit of te staan nie, die pyn is net ondraaglik. Sodra heroïne dan weer geneem word, is dit letterlik ‘n paar sekondes en elke liewe pyn is net weg en voel jy weer normaal.”
Die grootste hartseer met dwelmgebruik is dat die gebruiker nie net hul eie lewe verwoes nie, maar ook die mense naby aan hulle seer maak. “Ek werk nou nog aan van die verhoudings wat ek vernietig het deur my leuens, diefstal, manipulering en fisiese geweld. Ek het my destydse man en kind verloor en het geweet dat ek nie by my familie en vriende kon aanklop vir hulp na alles wat ek gedoen het nie.”
“Ek probeer nou hard om ander verslaafdes se families by te staan tydens hul stryd.”
“As ‘n verslaafde nie gereed is om hul gewoonte te laat staan nie is daar ongelukkig niks wat die familie kan doen nie en in sommige gevalle, soos myne, moet hul eers ‘n absolute laagtepunt bereik voordat hul bereid is om hulp te soek.”
Vir Monique is dit belangrik dat mense na aan ‘n verslaafde moet weet dat hul nooit die persoon moet verwerp nie. “Geliefdes kan verskillende maniere vind om die verslaafde te motiveer om op te hou met dwelms gebruik wat enigiets insluit van ‘n gesprek oor die gewoonte tot by tronkstraf vir onwettige aktiwiteite wat met die dwelmgebruik verband hou, maar hulle moet versigtig wees om nie die persoon te verkleineer nie.”
“Ek het soveel verslaafdes waarmee ek gewerk het aan die dood afgestaan omdat hulle net besluit het dat hulle nikswerd is en teruggekeer het na hul dwelmbestaan terwyl hulle wel hul lewens sou kon verander as hul net die regte ondersteuning gekry het.”
Monique se storie het darem ‘n gelukkig einde en sy kan uitsien na ‘n wonderlike toekoms. “Voorheen het ek gebid dat Jesus my net moet neem omdat ek nie meer wou wakker word na elke fix nie, maar nou sien ek uit na die dag van môre en droom selfs oor my dogtertjie se toekoms en die dag as ek met ‘n wonderlike man gaan trou.”
“Ek kon so maklik nooit hierdie goed gehad het as dit nie vir die Here se liefde en genade in my lewe was nie,” sê Monique.
Monique se wenke vir dwelm afhanklikes:
Leef gesond en kry vir jou stokperdjies.
Gesels oor jou probleme. “Soms het mens net iemand nodig wat regtig na jou luister.”
Skryf jou lewensverhaal en deel dit met iemand wat jy vertrou. “As jy nie kan praat oor jou seer nie skryf dit neer.”
Kry jou gedagtes reg. “Sodra jy kan erken dat jy ‘n probleem het is die eerste stap geneem. Daarna moet jy God vertrou om jou te red, genees en sterk te hou.”
Vergewe jouself en ander. “Dis belangrik om ander mense te vergewe vir dit wat hulle aan jou gedoen het maar jy moet ook jouself vergewe vir dit wat jy aan ander gedoen het.
In Lephalale kan verslaafdes of hul families ‘n ondersteuningsgroep by NG kerk Ellisras bywoon Dinsdae om 19:00. Kontak Candice Robinson by 076 891 7853 of Peet Joubert by 072 197 2910 vir inligting.
In Mokopane kan die Suid Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) gekontak word by 015 491 3149 vir ‘n verwysing na ondersteuningsgroepe.
0 Comments