-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Nadia Fourie (33) is ‘n tuisteskepper en ma van twee woelige seuntjies, Henry (13) en Riley (11 maande), maar hierdie vrou het ‘n groot droom om Lephalale se mense te help met haar groentetuin projek.
“Ek het gereeld op Facebook gesien hoe gesinne in die dorp vra vir kos en dit was hartverskeurend om te sien dat die meeste weldoeners net goed soos ou klere kon gee omdat ons almal maar swaar trek en kos so duur geword het,” vertel Nadia .
Volgens Nadia het sy self nie groen vingers nie en kry sy die meeste van haar idees van die internet af. “Ek het ‘n vriend wat ‘n spinasie boerdery het wat bereid is om ons te help met so ‘n paar wenke en idees oor hoe om die regte plante op die regte tyd te plant.”
Hierdie tyd van die jaar is daar nie veel groente tipes wat geplant kan word nie, maar Nadia is vuur en vlam om solank haar beddings en grond reg te kry vir die groot oeste wat sy beplan. “Ek het op Limpopo se landbouskedule gaan loer en gesien dat ons van Julie maand af kan begin om boontjies en aartappels te plant maar intussen kan mense ook kruie in potjies plant as hulle nie meer kan wag om te begin nie.”
Sodra elkeen dan sy groente geoes het wil Nadia ‘n groot byeenkoms hou waar die groente verkoop of geruil kan word. “Ons hoef ook nie almal vars groente te verkoop nie, maar kan ook daarvan inlê of bewerk en vries om later te verkoop.”
Enigiemand is welkom om by Nadia se groepie op Facebook, Ellisras groente projek, aan te sluit. “Ek sal veral baie daarvan hou as daar so ‘n paar kundiges by ons wil aansluit wat ons kan help om ‘n sukses van die idee te maak. Ons het reeds ‘n groot donasie van omtrent 40 verskillende groentesade gekry en al wat ons nou kort is ‘n paar gewillige hande om vir die dorp te wys waar Dawid die wortels begrawe het.”
0 Comments