-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – ‘n Gesin in Boekenhout-straat het verlede naweek ‘n nare ondervinding gehad toe ‘n dief by hul huis ingebreek het en met ‘n klomp waardevolle besittings weggekom het.
“Ons het Vrydagaand laat gaan slaap nadat ons kuiermense gery het en het seker gemaak dat al die deure gesluit was voordat ons ingekruip het,” vertel Adelle Odendaal wie saam met haar man, Tommy, en hul twee kinders in die huis woon.
Toe Adelle en haar man Saterdagoggend opstaan het hulle met ‘n skok agtergekom dat twee skootrekenaars, hul selfone en ‘n klomp ander waardevolle items skoonveld is.
“Die booswig moes deur die kombuisdeur ingekom het, alhoewel ek geen idee het hoe hy dit reggekry het nie, want ons het die sleutel in die slot gelos, maar die Saterdagoggend was die deur steeds gesluit en die sleutel was onderdeur die deur geskuif!”
“Die ergste van alles is dat die persoon binne-in ons huis was en ons selfone reg langs die bed gevat het waar ek en my man gelê en slaap het!”
Adelle vermoed dat die inbreker hul huis al ‘n rukkie dopgehou het.
“Ons het ‘n groot Saint Barnard hond wat glad nie van vreemdelinge hou nie en ons gebruik soms ‘n afskorting tussen die agtererf en die voortuin om die hond in te perk," sê sy. "Die dief het presies geweet hoe om die afskorting te plaas sodat die hond nie agtertoe kon gaan nie.”
Nog ‘n aardigheid wat Adelle omkrap is die plasing van drie groot klippe op haar sypaadjie reg voor die huis. “Ek weet dat ons tuinwerker vroeër die week daar skoongemaak het en dat hy die klippe sou verwyder as hy dit gesien het.”
Adelle doen ‘n beroep op enigiemand wat moontlik inligting het oor hul gesteelde goedere om na vore te kom.
“Van die items, soos my man se trouring, het vreeslike sentimentele waarde vir ons en ek sal dit regtig graag wil terug hê.”
Tydens die voorval is ‘n HP en Toshiba silwerkleurige skootrekenaar, ‘n Samsung Note 5 en Samsung Note 3, ‘n swart 9720 Blackberry en pienk 9720 Blackberry geneem en Tommy se vleklose staal trouring met drie diamante in. Die een skootrekenaar was in ‘n rooi en swart rugsak.
Enigiemand wat moontlik die goedere gesien het word versoek om die Lephalale polisie te kontak.
0 Comments