<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Vermiste man gevind - ly aan geheueverlies

 

Gerrie in die hospitaal net nadat hy gevind is Dinsdagaand.

News : 24 Jun 2016 1227 Viewed By Helena Raats 0

“Wanneer bring julle my mense?” So het Gerrie Kachelhoffer (41) gevra nadat hy Dinsdagmiddag in die Polokwane Medi-Kliniek se intensiewe eenheid opgeneem is vir kopbeserings.
Gerrie het Maandag spoorloos verdwyn terwyl hy op pad was om boumaterial te gaan koop op die Chuenespoort pad, suid van Polokwane.
Die gebeure rondom sy verdwyning bly egter duister nadat Gerrie laat Dinsdagaand deur ‘n onbekende taxi-bestuurder by die Polokwane polisiestasie afgelaai is. Hy was deurmekaar, gedehidreer en dit het gelyk of hy oor die kop geslaan is. Die kontant wat hy by hom gehad het is weg.
Volgens Gerrie se skoonsuster, Sarie Greyling, weet die familie nie wie die taxibestuurder is nie en presies waar hy gevind is nie. “Die polisie het ‘n ID-kaartjie gekry wat Gerrie by hom gehad het en daarop was sy neef, Dr Thys Kachelhoffer van Polokwane, se kontakbesonderhede,” sê sy. “Die polisie het Dr Kachelhoffer geskakel en besef dat die man as vermis aangegee is en hom na die hospitaal geneem.”
Sarie sê dat Gerrie geen opmerklike beserings het behalwe wat lyk na ‘n harde hou oor die kop nie. “Hy kom bedwelm en deurmekaar voor, maar dit kan moontlik die harsingskudding wees wat hy van die hou opgedoen het,” verduidelik sy.
Gerrie se vrou, Yvonne, en sy twee dogters se teleurstelling was groot toe Gerrie hulle ook nie herken het nie. “Ons glo dit gaan ‘n tydjie neem voordat hy sy geheue herwin."
Volgens Sarie meen die dokter dat Gerrie geen bloeding op die brein het nie, maar geweldige trauma ervaar het en dit dalk die rede vir sy geheueverlies kan wees. "Hy is geslaan en gekneus op sy bolyf, nek en kop en hy praat baie min omdat niks vir hom bekend is nie."
Die familie hoop om om meer antwoorde te kry oor waar en hoe Gerrie gevind is en wie die man is wat hom by die polisiestasie afgelaai het.
Lede van die Heritage Protection Group (HPG) het Dinsdag uitgery na Chuenespoort nadat Gerrie se bakkie langs die pad gevind is. Sy sleutel was nog in die bakkie asook sy selfoon. Gerrie, wat vir Engen Petroleum werk doen, het Maandagmiddag sy werkers by die Padi Motors Motorhawe gaan aflaai waar hulle besig was om te werk. Hy het toe gery om boumateriaal te gaan koop.
“Een van die werkers het ons 17:00 gebel en gesê dat Gerrie nog nie terug was nie,” het Sarie gesê en bygevoeg dat sy dadelik sy selfoon geskakel het, maar dat dit net gelui het. “Die eienaar van die motorhawe en die werker het uitgery en die bakkie skaars 11 minute van die motorhawe af gevind, maar Gerrie was nie by die voertuig nie.”
Netstar is geskakel en daar is bepaal dat die bakkie om sowat 12:30 afgeskakel was. Gerrie werk al drie weke in die area en het die gebied geken. Hy word beskryf as ‘n stil, gelowige mens wat uiters verantwoordelik is en nie sommer sonder sy selfoon die voertuig sou verlaat of nie sou sluit nie.
“Ons wil dankie sê vir die oorweldigende ondersteuning wat ons familie ontvang het van alle oorde,” sê Sarie. “Ons is dankbaar teenoor die Here dat Hy Gerrie vir ons bewaar het en ons weet dat God sal aanhou om oor hom te waak.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube