-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Wat daardie 48-uur met Gerrie Kachelhoffer (41), ‘n oud-inwoner van Mokopane, gebeur het langs die pad by Chuenespoort, suid van Polokwane, weet niemand nie. Gerrie is uit die Polokwane Medi-Kliniek ontslaan en sterk aan by die huis, maar herken niemand nie.
Gerrie, wat aan Hoërskool Piet Potgieter gematrikuleer het, is op 21 Junie deur ‘n onbe-kende man by ‘n polisiekantoor in Polokwane afgelaai – hy was deurmekaar, gedehidreer en dit was duidelik dat hy aangerand was.
Gerrie is verlede Maandag as vermis aangegee nadat hy spoorloos verdwyn het terwyl hy op pad was om boumateriaal te gaan koop. Die bakkie waarmee hy gery het, was netjies langs die pad afgetrek met die sleutel en sy selfoon net so in die voertuig.
Foto’s van Gerrie is versprei op sosiale media en deurgegee aan die bus- en taxibestuurders in die area en ‘n grootskaalse soektog is van stapel gestuur om hom te vind.
Gerrie het sowat R4000 kontant by hom gehad, maar dit wil voorkom asof hy oor die kop geslaan is en beroof is. Daar was geen tekens van ’n struweling in of om sy voertuig gewees nie.
Sarie Greyling, Gerrie se skoonsuster, het aan die media gesê dat Gerrie nie sy vrou en kinders herken nie en dat die dokter meen dat hy geweldige trauma deurgemaak het. “Hy is geslaan en geneus op sy bolyf, nek en kop en dit kan dalk die rede vir die geheueverlies wees,” het sy bevestig. Sy het Dinsdagmiddag op Facebook geskryf dat dit onder omstandighede goed gaan met hom, maar dat Gerrie steeds niemand herken nie, en sy gesin moet hulself elke oggend aan hom voorstel.“Hy eet goed, maar is baie stil en slaap baie,” skryf Sarie, wat Gerrie as 'n baie geestelike mens beskryf. “Asseblief hou aan bid.”
0 Comments