<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Noue ontkoming vir ma en seun

 

Valerie Byliefeldt en haar seun KC (16) is deur ’n groot beproewing na ’n gewapende roof wat helder oordag plaasgevind het.

News : 11 Jul 2016 1605 Viewed By Martie Le Grange 0

MOKOPANE – Die koeël wat vir ’n tienerseun (16) bedoel is, het genadiglik sy teiken gemis nadat vier rowers hom en sy ma helder oordag voor die oprit van hul huis in Bezuidenhoutstraat beroof het.
Valerie Byliefeldt en haar seun, KC, het Saterdagoggend omstreeks 11:20 die noue ontkoming gehad en sê hulle is dankbaar dat God hulle gespaar het.
“Ons was op pad om lone af te gee toe ek in my motor se truspieëltjie ’n man gewaar wat skuins oorkant die pad in ons rigting beweeg,” het ‘n getraumatiseerde Byliefeldt gesê. “Ek het dadelik ongemaklik gevoel en my seun probeer waarsku wat besig was om aan die passasierskant in te klim.”
Sy sê hierna het alles blitsvinnig gebeur en voordat sy haar kon kry is sy en haar seun van duisende rande se lonegeld beroof.
KC sê hy wou ten alle koste sy ma beskerm en het om die kar gehardloop en een van die verdagtes met die vuis bygedam. Die verdagte was egter gewapen en het ’n skoot in KC se rigting afgevuur.
Hy het gemis en intussen het van die ander mans sy ma in haar kar probeer oorrompel. “Don’t shoot, take the money,” het die angsbevange Valerie geskree, terwyl ’n pistool ook op haar gerig is. Sy sê die rower het toe die pistool se sneller getrek en sy het ’n klikgeluid gehoor, maar geen skoot het afgegaan nie.
Dit is toe dat sy die geld vir een van die rowers gegee het. Die rowers het toe gevlug na ’n donkerkleurige motor wat ’n ent van die huis af geparkeer was met ’n verdagte agter die stuur. Byliefeldt sê die motor is deur die mans gestoot om aan die gang te kom toe dit nie onmiddellik wou vat nie en een van die verdagtes het besluit om eerder te voet  te vlug.
Byliefeldt het dadelik SOS Sekuriteit en die polisie geskakel. “Ons is so dankbaar teenoor ons Hemelse Vader om nog te leef,” sê sy. Haar broer, Pieter Grobbelaar, is ook in 2009 in ’n gewapende roof doodgeskiet.
Valerie bedank SOS Sekuriteit en die polisie vir hulle flink optrede en behulpsaamheid. ’n Soektog na die rowers het egter niks opgelewer nie. Die polisie se ondersoek duur voort.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube