<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Monique se liggaam geïdentifiseer

 

Die polisie het Maandagoggend bevestig dat die ontbinde lyk wat in Mei naby die Deelkraal afdraai net buite Lephalale gevind is wel die vermiste Monique Barnard (19) is. Foto: Facebook.

News : 11 Jul 2016 21599 Viewed By Amanda Basson 0

LEPHALALE – Die polisie het Maandagoggend bevestig dat die ontbinde lyk wat in Mei naby die Deelkraal afdraai net buite Lephalale gevind is wel die vermiste Monique Barnard (19) is.

DNS-toetse is op die liggaam gedoen om vas te stel of dit met dié van Monique se ouers ooreenstem. “Die DNS-resultate het verlede week terug gekom en ons kan bevestig dat die lyk wel Monique was,” het adjudant offisier Frans Mokoena van die Lephalale polisie gesê. Hy het ook bevestig dat ‘n saak van moord ondersoek word.

Die uitslag van die post mortem is nog nie bekend nie. “Ons kan op hierdie stadium nog nie bevestig wat die oorsaak van haar dood was nie en wag nog vir die patoloog se verslag.”

Daar is nog geen verdagtes gearresteer nie en die polisie doen weereens ‘n beroep op enigiemand wat moontlik inligting het om met die Lephalale polisie in verbinding te tree. “Ons is besig om ‘n paar mense te ondervra en hoop om spoedig ‘n arrestasie te maak.”

Monique het na bewering ná ‘n argument met haar mansvriend, by wie sy gewoon het, in die vroeë oggendure van 7 April uit die huis in Kameeldoringstraat in Onverwacht geloop met net haar selfoon en ‘n klein tassie vol klere.

Monique het vroeër die aand nog met haar ma, Louise Laubser, kontak gehad maar toe haar ma haar die volgende oggend probeer bel was haar selfoon afgeskakel. Volgens Louise is die foon sedertdien nog nie weer aangeskakel nie. Monique en haar ma was gereeld in kontak met mekaar en Louise het onraad gemerk toe sy nie haar dogter in die hande kon kry nie.

Ongeveer ‘n maand later het ‘n verbyganger die erg ontbinde liggaam van ‘n vrou naby die Deelkraal afdraai op die R510 gewaar en die polisie in kennis gestel. Op daardie stadium kon dit egter nie bevestig word dat die liggaam wel Monique was nie weens die gevorderde stadium van ontbinding.

‘n Polisielid het in Mei aan Noordelike Nuus gesê dat die toneel deeglik ondersoek is en dat daar bewysstukke en monsters versamel is om die polisie ‘n idee te gee hoe lank die liggaam daar gelê het en wanneer die moontlike misdaad plaasgevind het. Hy het destyds gemaan dat alhoewel dit lyk of die polisie voete sleep, die publiek moet onthou dat al hierdie forensiese toetse en deskundige verslae tyd neem.

Monique se ma, Louise Loubser, was nie beskikbaar vir kommentaar nie, maar het Saterdag 8 Julie op haar Facebook ‘n boodskap geplaas ter bevestiging van Monique se dood. “Met ’n absoluut verpletterde, bloeiende moederhart maak ek hiermee Monique (of Monica soos sy verkies het om deur haar vriende genoem te word), my ou pop, se  heengaan bekend.”

Intussen het ‘n vriendin van Monique bevestig dat daar ’n spesiale begrafnisdiens op Vrydag 15 Julie om 09:30 by die Moreletapark NG kerk in Pretoria sal plaasvind.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube