-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE - ‘n Vermeende dwelmsmous wat glo vir ‘n geruime tyd deur die polisie gesoek was, is Dinsdagaand dood.
Volgens die polisie is die 36-jarige verdagte van Nigerië op die sypaadjie voor 'n huis in Dudu Madisha deur paramedici dood verklaar nadat hy met kokaïen in sy besit betrap en in hegtenis geneem is.
Volgens ‘n ooggetuie op die toneel het gemeenskapslede die verdagte vroeër die dag aangerand toe hy wou weghardloop vir ‘n verkeersbeampte wat hom in Ruiterweg afgetrek het. Op aandrang van die verkeersbeampte, bygestaan deur sekuriteitspersoneel, het die man toe na bewering dwelms uitgewys by ‘n huis in Dudu Madishastraat aan polisielede wat ontbied is. Reaksie offisiere van Special Operations Solutions (SOS) was ook op die toneel.
Noordelike Nuus het gesien hoe die oënskynlik-bewustelose verdagte na die sypaadjie voor die huis gedra word nadat hy glo binne-in die huis inmekaar gesak het.
Hy het glo gevra dat ’n ambulans ontbied word, maar is dood voordat die ambulans opgedaag het.
Die polisie het geen ander dwelms in die huis gevind nie, maar wel ’n telefoonboekie wat as bewysstuk ingedien is.
’n Groep woedende Nigeriërs het, nadat hulle van die man se dood te hore gekom het, na SOS se kantoor in Ruiterweg opgeruk, dit met met klippe bestook en wapens, onder meer kapmesse en vuurwapens, rondgeswaai. Groot skade is aangerig.
Een betoger het na bewering ook ’n vuurwapen op een van SOS se paramedici gerig. “Dit het gelyk of hulle wou wraak neem,” het SOS reaksie bestuurder, Martin van Eck, gesê. Hy sê SOS was betrokke by die klopjag en die verdagte se arrestasie, maar sê hulle het niks met die man se dood te doen gehad nie. ’n Nadoodse ondersoek sal hopenlik die presiese oorsaak van die oorledene se dood bepaal.
Mokopane polisiewoordvoerder, sersant Irene Masingi, sê die saak word ondersoek.
0 Comments