-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Die ergste ding wat met ‘n ouer kan gebeur is om ‘n kind aan die dood af te staan en hierdie harde werklikheid het Peet en Ruth Louw getref toe hul seuntjie, Jacques (10), verlede maand dood is nadat hy in ‘n mes vasgehardloop het.
“Dit was die laaste aand van die skoolvakansie en Jacques het vir my kom vra of hy by sy maatjie oorkant die pad kan oorslaap,” sê Ruth. Jacques, wat ‘n geliefde leerder by Laerskool Ellisras was, het al voorheen daar oorgeslaap en Ruth het ingestem. “Omtrent 22:00 die aand het die kind se ouers my geroep en gesê dat ek vinnig moet kom want daar is fout met Jacques.”
Toe Ruth by die huis instap het sy ‘n plas bloed op die vloer in die kombuis gesien en sy na die badkamer waar sy Jacques in die bad gevind het. Die kinders besig om suurlemoene te skil toe Jacques in die mes vasgehardloop het wat sy maatjie vasgehou het. “Ek het teruggehardloop na my huis toe om my man te gaan haal en ons is na die Mediclinic toe waar Jacques dadelik behandel is.”
Jacques het in die kar nog met sy ouers gepraat en het ook self by die hospitaal ingestap.
“Die dokters het eers gedink dat die mes net onder sy vel gepenetreer het by sy ribbes en hulle wou hom net stabiel genoeg kry sodat hulle hom kon oorplaas na Meulmed in Pretoria.”
Die bloeding wou egter nie ophou nie en het hulle x-strale geneem wat gewys het dat te veel drukking op sy hart was en dat die mes die sakkie om die hart beskadig het.
Jacques se hart het twee keer gaan staan, terwyl die dokters tervergeefs gespook het om sy lewe te red.
“Die hele tyd wat my kind in die hospitaal was het dit gevoel of daar ‘n drukking op my eie hart is en ek het flou geval toe sy hart die eerste keer gaan staan het,” sê Ruth.
Toe Jacques se hart die tweede keer gaan staan was die Louw-egpaar buite die hospitaal in die parkeerterrein, omdat die dokters vir hulle gevra het om buite die noodeenheid te gaan wag terwyl hulle met Jacques besig was. “Ek kon my kind se gesig helder voor my geestesoog sien en die beklemming op my hart het al hoe minder geword totdat sy beeld uiteindelik voor my weggegaan het,” sê Ruth.
Dit was toe dat die dokters vir die Louw egpaar meegedeel het dat Jacques dit nie gemaak het nie.
“Ek het nog ongelooflik baie vrae en my emosies wissel tussen hartseer en woede, maar ek weet dat die genesingsproses in fases werk en dat ek myself moet tyd gee om my kind se dood te verwerk.”
Jacques was Ruth se laatlammetjie en sy was baie beskermend oor hom gewees.
“Ek het nog elke aand sy badwater vir hom ingetap en hom in die bed gesit, omdat dit vir my gevoel het asof hy nog my babatjie was,” vertel sy hartseer.
“Ek kan nie genoeg dankie sê vir almal wat ons bygestaan het nie, dit is ‘n verskriklike moeilike tyd vir ons as gesin en dit maak regtig ‘n groot verskil om die liefde en ondersteuning van die mense om ons te ervaar.”
0 Comments