-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Dit is belastingseisoen en as mens ‘n paar eenvoudige riglyne volg kan dit minder van ‘n kopseer wees om al die nodige dokumente in te vul en betyds in te handig.
Die Suid-Afrikaanse Inkomste Diens (SARS) het vroeër die jaar aangekondig dat persone wat minder as R350 000 ’n jaar verdien nie nodig het om hul belastingopgawe in te dien nie, maar volgens Linda Rocher, ‘n belastingpraktisyn in Lephalale, voorsaak hierdie kommunikasie verwarring. “Jy moet steeds jou belastingopgawe indien, veral as jy meer as een IRP5 ontvang het (selfs al het jy geen belasting betaal nie), as jy ‘n mediese fonds en pensioen- of voorsorgplan het en as jy annuiteite het of ‘n vervoertoelaag ontvang.”
Nog ‘n belastingpraktisyn in Lephalale, Babsie Schultz, stem saam dat mense wie minder as die voorgeskrewe bedrag verdien nogsteeds hul opgawes moet instuur. “As jy van werk verander het, meer as een werk het of meer as een IRP5 ontvang het moet jy jou opgawe voltooi.”
Volgens Rocher kan ‘n mens maklik toekomstige probleme vryspring deur te verseker dat al jou belastingopgawes ingedien is. “Jy kan gepenaliseer word in die toekoms omdat SARS die reg het om hul riglyne aan te pas soos hulle goeddink. Wat vir een jaar geld, geld dalk nie noodwendig vir die volgende jaar of selfs tien jaar nie. Om elke jaar in te dien voldoen jy aan alle reëls en sal jy veilig wees van boetes of terughouding van terugbetalings in die toekoms.”
Indien iemand ‘n belastingklaring-sertifikaat wil hê moet hulle al hul belastingopgawes indien en dit moet op datum wees. “As jy uitstaande belastingopgawes het of vir SARS geld skuld gaan jy nie die sertifikaat kry nie en dit kan beteken dat jy dalk nie ‘n verband vir die koop van ‘n huis kan kry nie en ook nie kan tender vir besigheid nie,” waarsku Rocher.
Sonder ‘n belastingsertifikaat sal jy ook nie in staat wees om jou pensioen en annuïteite te ontvang nie. “Ten einde ‘n uitbetaling te ontvang van jou fonds moet jou belastingrekord by SARS skoon wees. ”
Die 2016 belastingjaar sluit 25 November 2016.
Wat het jy nodig om jou belasting in te dien? IRP5’s / IT3a sertifikate; rente- en beleggingsertifikate van die bank of finansiële instelling (IT3b en IT3c); uittree-annuïteite bydraesertifikate; sertifikate vir skenkings aan nie-winsgewende organisasies soos die dierebeskermingsvereniging, Kansa en Solidariteit (geen donasies kan geëis word sonder ‘n artikel 18A sertifikaat nie); mediesebelasting sertifikaat en mediesefonds kwitansies van rekeninge wat nie geëis is van jou mediese fonds; reisstaat as jy ‘n reistoelaag kry; afskrif van jou identiteitsdokument; die relevante dokumente as jy huurinkomste ontvang; as jy ‘n kommissie-inkomste kry wat meer as 50% van jou salaris is sal jou uitgawes wat jy gehad het om jou kommissie te verdien nodig wees soos brandstofstrokies en ‘n reisstaat.
Linda Rocher kan gekontak word op 083 653 2095 en Babsie Schultz op 082 927 6745.
0 Comments