-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Die familie van Jakkie Lottering (28) is erg ontstoke nadat hy ernstige beserings opgedoen toe die bromponie waarop hy gery op die aand van 29 Julie na bewering deur ‘n insleepdiens voertuig, van ‘n maatskappy buite Mokopane, gestamp is.
Die familie beweer dat Lottering, waar hy op die bromponie gesit het, meters vêr gesleep is deur ‘n insleepdiens voertuig. Hulle sê dat hulle besig is om regstappe te oorweeg vir skadevergoeding teen die betrokke maatskappy.
Lottering is na die voorval, wat op die hoek van Retief en Van Heerdenstraat plaasgevind het, in die Mokopane Hospitaal se intensiewe sorg eenheid opgeneem en word steeds behandel vir ernstige beserings aan sy kop, been, heup, voorarm en skouer.
Volgens ooggetuies is Lottering in die linkerbaan getref en sowat 20 meter vêr gesleep voordat hulle tot stilstand gekom het.
Lottering sê hy kon nie veel van die ongeluk onthou nie, behalwe dat hy ligte van agter gesien het net voor hy getref is. Hy het die volgende oggend in die hospitaal wakker geword.
Sy selfoon en beursie wat by hom was tydens die ongeluk is nêrens te vinde nie.
Lottering se suster, Roné, is deur Special Operation Solutions (SOS), ’n sekuriteitsfirma wat kort na die insident op die toneel was, van haar broer se ongeluk verwittig.
Die betrokke insleepvoertuig was na Roné se aankoms reeds weg van die toneel en hulle kon geen besonderhede van die insleepdiens kry nie.
EMS24 het vir Jakkie na Mokopane hospitaal gehaas.
“Vir Jakkie is dit ’n bitter pil om te sluk. My broer het nie ’n mediese fonds nie en hy moet sonder ’n
inkomste klaarkom want hy het twee weke voor die ongeluk by ’n nuwe maatskappy
begin werk,” sê 'n baie ontstelde Roné.
Sy sê die ergste is glo die polisie se bewerings dat dit Lottering se skuld was. Die insleepvoertuig se bestuurder het klaarblyklik vir die polisie gesê die bromponie se ligte was nie aan nie. Roné se broer ontken dié aantyging.
Na dae se rondvra en soek het die familie uiteindelik die insleepdiens se besonderhede gekry.
Jakkie is intussen uit die intensiewe sorg en gaan eers oor sowat twee weke geopereer word. Die familie het intussen hulle dank uitgespreek teenoor EMS 24, Kia en SOS vir hulle hulp.
0 Comments