<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Skote klap in woonbuurt

 
News : 15 Aug 2016 2087 Viewed By NoordNuus reporter 0

MOKOPANE - “Skiet my as julle moet, ek het niks meer om vir julle te gee nie.” So het ‘n jare lange inwoner en bekende sakeman van Mokopane Saterdagaand moedeloos gesug toe ‘n bende huisrowers hom herhaaldelik geskop en geslaan het terwyl hulle dreig om hom dood te skiet as hy nie vir hulle nog geld gee nie.
Die man, wie se identiteit beskerm word uit vrees dat die rowers weer sal toeslaan, sê hy was aan die slaap toe die groep ro-wers sy kuiergaste op sy drumpel oorval het Saterdagaand. Die gaste was by ‘n troue en het gou kom groet voor hulle sou terugkeer Gauteng toe.
“Toe my vrou die deur oopmaak, toe staan hulle daar met vuurwapens op ons vriende gerig en dring aan om in te kom.” Die gaste moes glo mooipraat om die aanvallers te oortuig dat dit nie hulle huis is nie en dat hulle nie weet of daar geld in die huis is en waar dit is nie.
“Hulle het almal geslaan, my vrou, my dogters, ons gaste. Gelukkig het my dogter kop gehou en besef sy moet my wakker maak sodat ek nie van die bohaai wakker skrik en myself geskiet kry nie. Sy het hulle na die kamer begelei waar sy herhaaldelik uitgeroep het: ‘Pappa, jy moet wakker word, maar bly kalm, bly kalm, Pappa. Dis okay’,” vertel die inwoner.
Die rowers het hom dadelik begin slaan. Sy dogter moes later steke kry waar hulle haar met 'n handwapen oor die kop geslaan het. “Ek het net R700 kontant in die huis gehad, maar hulle wou my nie glo nie. Ek onthou hoe ek in een stadium hande-viervoet op die grond was en kort-kort ‘n skop of hou gekry het van iemand wat sê ek moenie opkyk nie en vra waar is die geld.”
Dit is die tweede keer wat hierdie gesin by hulle huis in Akasia onder rowers deurloop. “Ek dink rowers glo sakemanne hou baie kontant by die huis, maar dit is nie waar nie.”
Lede van die plaaslike buurtwag het onraad vermoed en in die straat uitbeweeg na die huis waar die roof plaasvind. Een van die buurtwag lede het ‘n Suricat reaksieoffisier langs die pad gekry en vir hom beduie om saam te kom.
Toe hulle voor die huis stop het een van die rowers op Suricat sekuriteit voertuig geskiet en die reaksieoffisier aan sy been gewond. Die swaar-gewapende rowers het uit die huis gestorm en terwyl hulle op al wat leef en beef geskiet het, het een ‘n R5-geweer op die Suricat offisier gerig en sy twee rigting radio en vuurwapen afgeneem. Die radio is later in die veld gekry. ‘n Lid van die buurtwag is ook gewond voordat die rowers op die vlug geslaan het.
Buurtwag lede het die rowers agterna gesit, maar het die handdoek ingegooi toe die rowers in die Sekgakgapeng-omgewing stop en die agterste luik van hul voertuuig oopmaak. “Daar was gevaarlike wapens in ons rigting gerig en ons het besluit om onsself eerder uit die voete te maak,” vertel een van die buurtwag lede.
Die reaksieoffisier is later na die Voortrekker hospitaal geneem vir behandeling.
Die sakeman sê hy en sy gesin sal bera-ding ontvang. Hulle is dankbaar dat niemand noodlottig beseer is nie. “God was baie goed vir ons,” sê hy.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube