<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Staatmaker leerkrag groet na 43 jaar in die onderwys

 

James Steele.

News : 19 Aug 2016 4636 Viewed By Martie Le Grange 0

MOKOPANE – Die staatmaker leerkrag en wiskunde departementshoof van Hoërskool Piet Potgieter (HPP), James Steele, groet die onderwys na 43 jaar vir ‘n welverdiende aftrede.
Steele het verlede week (Woensdag), sy 65ste verjaarsdag by HPP gevier en dit is ook hiér waar hy 41 jaar gelede ’n pos as wiskunde onderwyser aanvaar het. “Ek het so baie van Potties se kinders sien grootword en na al die jare van skoolgee sien ek nou uit na my aftrede,” sê hy met ’n glinster in sy besonderse blou oë.
Steele is nie sommer enige gewone wiskunde onderwyser nie. Hy het al ’n paar uitdagings oorbrug en het ook al groot hartseer ervaar, veral toe hy sy eerste vrou, Marinda, na ’n kankerstryd aan die dood moes afstaan. Hy het ook al self dié gevreesde siekte in die gesig gestaar en oorwin.
Generasies vir wie hy skoolgehou het gaan hom onthou as die kwaai meneer wat ’n goeie pakslae kon gee wanneer nodig, beaam Erendina Viljoen, een van Steele se kollegas wat ook by hom skool gekry het.“Dié wat onder my rottang deurgeloop het, sou sekerlik nie na die tyd daaroor gelag het nie,” sê hy tong-in-die-kies. 
Noordelike Nuus het egter gou die sagte kant van James Steele leer ken. Hy vertel baie staaltjies en praat net met lof van sy vrou, Lida, sy drie kinders en kleinkinders. Hy is ook ’n man van vele talente en blink uit op die rolbalbaan waar hy vanjaar sy Limpopo Senior klere verwerf het. Hy het hom op sy tyd ook op die tennis- en gholfbaan laat geld.
Steele het sy onderwysloopbaan in 1973 by Fakkel Hoërskool afgeskop en twee jaar later by Hoërskool Piet Potgieter begin skoolgee. Hy was ’n jaar later na Hoërskool Mike Erasmus, die ou hoër handelskool wat vandag as Waterberg High School bekend is. In 1979 is Steele weer terug op sy pos by HPP waar hy tot einde Augustus vanjaar die wiskunde septer geswaai het.
’n Hoogtepunt in sy loopbaan was in 1996 toe sy wiskunde klas met 15 vak onderskeidings geslaag het.
“Handel altyd reg in al jou doen en late,” is Steele se afskeidsboodskap en advies aan leerders.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube