-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
STEENBOKPAN – Die eienaars van ‘n restitusie plaas naby Lerekhureng in Steenbokpan sit al vir meer as vier jaar met hul hande in hul hare omdat hulle glo sukkel om kragtoevoer na hul plaas te kry sodat hulle kan boer.
Volgens Daniel Sekgwahle, voorsitter van die Phomolong Community Trust wat die plaas besit, kla hulle gereeld by Eskom oor die elektrisiteit wat nie gekoppel word nie. “Ons het al vir Eskom gebel op hul tolvrye nommer en verskeie verwysingsnommers gekry en moes ‘n paar keer die paalnommer van die kragpaal wat die naaste aan die woonhuis is vir hulle gee, maar na talle probeerslae sit ons nogsteeds sonder krag.”
Volgens DA raadslid Stephen Manamela is Eskom verantwoordelik vir die kragvoorsiening aan plase in die Steenbokpan area en nie die munisipaliteit nie. “Ek het self al met Eskom kontak gemaak oor die plaas, maar het elke keer net leë beloftes gekry dat die saak uitgesorteer sal word.”
Die ongeveer 52 ha grond wat deur die departement van landelike ontwikkeling vir die Trust aangekoop is het ‘n volledige woonhuis, moderne hoenderhokke, watertenks, ‘n boorgat en beeskrale wat dit ideaal sou maak vir die opkomende boere om ‘n sukses van die plaas te maak maar weens die gesukkel met Eskom om die krag aan te lê staan die hokke leeg, terwyl die familie ‘n bestaan voer deur hout meubels te maak en motors reg te maak.
“Ons het 24 beeste waarvoor ons weiveld by ‘n ander boer moet huur omdat ons ‘n kragopwekker moet gebruik om water uit die boorgat te pomp en dit kos baie,” sê Sekgwahle. “Soos al die ander boere om ons kry ons ook swaar met die droogte en is daar maar min gras, maar dit sou baie makliker gewees het as ons ten minste genoeg water uit die boorgat kon pomp om vir die beeste drinkwater te gee.”
Intussen het ‘n woordvoerder van Eskom aangedui dat hulle nie ‘n amptelike antwoord op die navrae van Noordelike Nuus kan gee nie omdat hulle eers moet vasstel wat die rede is waarom die krag nog nie aangelê is nie. “Ons kon wel vasstel dat daar foute op die aansoek was wat die voorsitter ingedien het soos die paalnommer wat verkeerd ingevul is.”
Sekgwahle sluk egter swaar aan Eskom se verduideliking. “Die paal waarna hulle verwys is omtrent 20m van my huis af en daar is ‘n duidelike metaalplaatjie met ‘n nommer op wat ek al ‘n paar keer vir hulle gegee het en as dit dan ál is wat fout was met die aansoek kon hulle dit al uitgesorteer het. Hoe kan dit vier jaar vat om ‘n probleem op ‘n aansoek uit te sorteer?”
0 Comments