<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Nathan sterf na stryd teen kanker

 

Nathan Hogan.

News : 31 Aug 2016 1018 Viewed By Amanda Basson 0

LEPHALALE – Die dorp is in rou nadat die heldhaftige Nathan Hogan (7), Patrick en Nolene Hogan se jongste seun, Maandagoggend rustig in sy slaap oorlede is na ‘n drie jaar lange kanker stryd.
Nathan het Vrydag, 26 Augustus, se sewende verjaarsdag gevier.
Hy is op vierjarige ouderdom met ‘n rare tipe kanker bekend as ‘graad vier neuroblastoom kanker’ gediagnoseer. Die Lephalale gemeenskap was so aangeraak deur die klein vegtertjie dat daar hande gevat is en ‘n spesiale gesinsdag in 2014 gereël is om geld in te samel om van sy mediese kostes te dek. Nathan is na ‘n deskundige in Richardsbaai geneem wat ‘n gespesialiseerde tipe bestraling moes doen omdat die kankergewasse naby aan sy hart en longe gelê het. Die behandeling is enig in sy soort in SA en word gedoen wanneer die kankergewasse naby interne organe lê wat deur tradisionele bestraling aangetas kan word.
Die kanker was vir ‘n rukkie dormant maar gedurende ‘n ondersoek vroeër hierdie jaar is daar gevind dat die kanker weer aggressief begin versprei het. Nolene het destyds aan Noordelike Nuus gesê dat daar oorspronklik net drie gewasse in sy bors, nek en rugstring was wat na sy beenmurg versprei het, maar dié keer was daar gewasse op van sy kliere, borsbeen, skouerbeen en een knie.
Daar is besluit om Nathan weer na dieselfde spesialis in Richardsbaai te neem vir behandeling. “Ek dink dit was net te laat,” het Nolene Woensdagoggend huilend gesê.
Die laaste twee maande het Nathan gesondheid agteruit gegaan totdat hy glad nie meer kon loop nie. Maandagoggend is Nathan in sy slaap oorlede. “Hy het net opgehou asem haal. Dit is vir ons as gesin baie moeilik om dit te verwerk.”
Nathan se begrafnis sal Donderdag 1 September om 11:00 uit die Agapé gemeente in Onverwacht plaasvind en die gesin het gevra dat almal blou aantrek as ‘n huldeblyk aan hom.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube