-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – “Helping one person might not change the world but it could change the world for one person,” is een van Adri Jacobs Knoetze, ’n parapleeg en enkelma van die dorp se gunsteling aanhalings.
Adri Jacobs Knoetze (44) is in 2000 van haar arms ondertoe verlam na ’n ernstige motorongeluk en het gevoel dat sy ’n afgesonderde lewe leef. Hierdie éérs aktiewe vrou wat die lewe in elke opsig omhels het, se lewe het in ’n oogwink handomkeer verander. “My liggaam en my huis het vir my ’n tronk geword,” het sy Dinsdagoggend in ’n onderhoud aan Noordelike Nuus gesê.
Adri is werkloos. Sy het twee betrekkings verloor weens ’n mediese toestand wat vererger word deur spanning. Tog is dié merkwaardige vrou, wat haarself beskryf as iemand wat die lewe en die buitelug aanbid, baie dapper. Al wat sy vra is vir ’n geleentheid om haar lewe ten volle te benut saam met haar seun SB (14). Adri sê haar ma, Cecile Jacobs, is vir haar van onskatbare waarde. As dit nie vir haar was nie sou Adri nie finansieel die mas kon opkom nie.
Cecile is 73 en werk om haar dogter te ondersteun.
Adri het onlangsbesluit om na haar medemens uit te reik en vir hulp te vra op Facebook om haar lewenskwaliteit te verbeter. Sy sê voel in ’n mate skuldig om te vra vir finansiële steun om ’n opgegradeerde fiets aan te skaf wat spesiaal ontwerp is vir parapleë. Die fiets is elektries-aangedrewe en om só een te besit sal Adri se droom bewaarheid wat sal beteken sy sal saam met haar seun die natuur kan verken. Sy erken ook dat daar ander groter nood is wat mense eerder kan ondersteun en wens dat die mensdom kan leer om ’n welwillendheid gesindheid te ontwikkel sodat mense mekaar kan help.
“Ek wil net graag deelneem aan sosiale- en familie byeenkomste en nie beperk wees tot so ‘n geïsoleerde lewe as gevolg van my “toestand” nie. Die vryheid op ‘n fiets kan nie in woorde beskryf word as elke ander metode van “vryheid” van jou weggeneem is nie,” sê Adri.
Adri benodig sowat R50 000 vir haar droom fiets en verwys na die fiets wat sy tans het as die “groen monster.” Sy sê die raam van hierdie fiets is te groot en swaar vir haar, die ratte is nie reg nie, die profiel is te laag op die grond vir die plattelandse paaie met slaggate wat sy daagliks aandurf. Sy sê sy is beperk tot ‘n paar “veilige” strate in die dorp en kan nie oor enige heuwel ry sonder hulp nie.
Adri se droomfiets sal vir haar nuwe wêrelde oopmaak en beteken dat sy ook kan byhou by ander fietsryers. Die elektriese funksies van die fiets sal vir haar ’n uitstekende hulpmiddel wees wat ook haar persoonlike veiligheid aanbetref aangesien sy aan lae bloeddruk ly en ook in ’n groot mate deur die weerstoestande geaffekteer word soveel so dat sy kan flou word en haarself nie kan help nie omdat sy ’n parapleeg is.
Sy bedank die skenkers wat reeds na haar uitgereik het wat haar tree vir tree nader bring aan haar droom. ’n Man wat Adri van geen kant af ken nie het tydens Noordelike Nuus se onderhoud met Adri Dinsdagoggend by haar erf ingestap en ’n bedrag geld in haar hand gestop en gesê dit is sy bydrae tot die fiets wat sy só graag wil hê.
Persone wat wil bydra kan Adri kontak by 084 583 6103.
0 Comments