<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Kneusplek eis amper seuntjie se been

 

Morné Kleynhans lyk op die oog af soos enige normale woelige seuntjie - totdat jy die krukke raaksien. Sy een beentjie is sigbaar kromgetrek en hy sukkel om oor die bankies by die restaurant te klim waar Noordelike Nuus met sy ma, Antoinette Kleynhans, gesels oor die chroniese osteomiëlitis waarmee hy vroeër die jaar gediagnoseer is.

News : 15 Sep 2016 934 Viewed By Amanda Basson 0

LEPHALALE – Morné Kleynhans lyk op die oog af soos enige normale woelige seuntjie - totdat jy die krukke raaksien. Sy een beentjie is sigbaar kromgetrek en hy sukkel om oor die bankies by die restaurant te klim waar Noordelike Nuus met sy ma, Antoinette Kleynhans, gesels oor die chroniese osteomiëlitis waarmee hy vroeër die jaar gediagnoseer is.

“Morné het in Julie buite ons huis gespeel en die brug van sy voet gestamp. Toe ek hom vra wat fout is het hy vir my gesê dat dit niks is nie, maar toe ek hom drie dae later in die bad help het ek gesien dat daar ‘n groot kneusplek op die voet is,” vertel Antoinette. Omtrent ‘n week nadat Morné sy voet gestamp het het hy saam met ‘n vriend van die familie op ‘n strand karretjie (beach
buggy) gery en weer sy voet gestamp. “Daardie aand het hy vir my gesê dat sy voet seer is en toe hy die volgende dag weer kla oor die voet het ek gedink dat hy dalk ‘n verskoning soek om nie skool toe te gaan nie, maar ek het my fout gou agtergekom toe hy die aand begin huil het van pyn.”
Vir drie dae het Antoinette haar kind gedokter met pynmedikasie totdat haar ma, Hanelie Kleynhans, besluit het om hom na die staatshospitaal toe te neem. “Die dokter het gesê dat dit net ‘n sagteweefsel besering is en het die voet en been met ‘n verband toegedraai. Ons is aangesê om die verband vir ‘n week aan te hou, maar Morné het ‘n paar dae later gesê dat hy die verband wil afhaal sodat hy kan bad.”
Morné se pa, Jacques, het die verband afgehaal en gesien dat die kind se hele been van sy knie af ondertoe bloedrooi is en soos 'n ballon opgeswel het. “Ons het aangegaan om vir Morné die antibiotika te gee wat die hospitaal voorgeskryf het, maar toe my suster se verloofde, wie ‘n paramedikus is, die been sien het hy gesê dat ons hom liewer na ‘n privaat dokter toe moet neem.”

Die Kleynhanse is toe na dokter Johan Landman toe by die MediClinic wie hulle na Steve Biko hospitaal in Pretoria verwys het. “Dr Landman het gesê dat ons Morné so gou as moontlik by ‘n spesialis moet kry, want Morné kan dalk sy been verloor.” By Steve Biko hospitaal is Morné
ondersoek en daar is gevind dat hy dringend geopereer moet word. “Die dokters het ‘n groot hoeveelheid etter uit die been verwyder en het ‘n dreineringstoestel op die been gesit om oortollige infeksie te dreineer, maar toe dit lyk asof dit nie genoeg is nie het hulle hom ‘n dag later weer geopereer.” Morné het twee weke in die hospitaal spandeer en is net voor sy verjaarsdag op 22 Julie ontslaan. “Teen daardie tyd was ons fondse uitgeput en ek het gedink dat ek nie veel vir my kind sal kan doen om sy dag spesiaal te maak nie, maar ‘n groep motorfietsryers van Lephalale het hulle harte oopgemaak en vir my kind 'n verjaarsdag vol bederf gereël, waaroor hy nou nog praat.” Morné was nie gesond genoeg om terug te gaan na sy Graad 1 klas by Laerskool Bosveld Primary nie, maar hy het gevra om vir sy juffrou te gaan groet. “Een van die maatjies het hom op sy been geskop en ons moes met hom terug hospitaal toe. Hy is oorgeplaas na ‘n hospitaal in Mokopane waar hy twee weke spandeer het en toe ontslaan met nog ‘n dosis antibiotika wat hy by die huis moes voltooi.”
Intussen wou die wond net nie gesond word nie en het Antoinette weer vir Morné terug geneem na die hospitaal toe. “Hulle het vir my gesê dat hy weerstandig geraak het vir die spesifieke soort antibiotika en dat daar niks is wat hulle kan doen nie, maar het hom na ‘n privaat spesialis, Professor Charles Lautenbach, in Pretoria verwys.” Prof. Lautenbach het bevind dat Morné se linkerbeen 2cm korter as sy regterbeen is en 18 grade skeef aangroei. Morné ontvang nou antibiotika en dan sal daar weer x-strale en bloedtoetse gedoen word om te bepaal hoe die behandeling moet aangaan. “Op hierdie stadium probeer ons nog bepaal watter bakterieë verantwoordelik is vir die wond omdat dit belangrik is om te verseker dat hy nie die verkeerde behandeling ontvang nie.” Danksy 'engele' het die gesin nie 'n tekort gehad tydens die moeilike tyd nie. Corney Myburgh, ‘n onderwyseres, het aangebied om vir Morné Smart Brain klasse te gee en volgende jaar sy Graad 1 met hom te voltooi vir ‘n minimale bedrag omdat hy hierdie jaar verder nie kon skool toe gaan nie. "Ons het nie ‘n mediese fonds nie en sukkel om al die mediese kostes te dra.”
Enigiemand wat bereid is om te help met Morné se fondsinsameling is welkom om ‘n bydrae te maak aan Child Medi Organization, ‘n nie-winsgewende organisasie wat help met die fondsinsameling, by FNB tjekrekening nr: 62632581056, takkode: 250655, verwysing: Morne.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube