<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Rowers slaan toe

 
News : 22 Sep 2016 501 Viewed By Martie Le Grange 0

MOKOPANE – Besighede in die dorp is die afgelope week geteister deur gewapende rowers wat meer as R240 000 in minder as 'n week uit vier rooftogte gebuit het.
 Vier verskillende ondernemings is sedert verlede Woensdag tot Maandag dié week deur gewapende rowers geteiken. In drie van die vier voorvalle was twee mans met vuurwapens betrokke en van drie ondernemings is sowat R80 000 elk gesteel.
Daar is ooreenkomste tussen die roof gevalle, het Mokopane polisie woordvoer-der, sersant Irene Masingi erken.
Die eerste voorval was verlede Woensdag (sien “Rowers oorval gesin”, 16 September) waar ’n gesin wat ’n besigheid bedryf deur vyf gewapende mans by hulle huis oorval en beroof is.
Die volgende dag, 15 September, het twee gewapende mans ’n winkel in De Klerkstraat ook van sowat R80 000 kontant beroof nadat hulle personeel met vuurwapens gedreig en beveel het om plat te lê. Die rowers het daarna dadelik op die vlug geslaan.
Die derde voorval was ook 15 September (verlede Donderdag) by ’n meubelwinkel in Nelson Mandela Rylaan wat ook deur twee gewapende mans beroof is. Die personeel is in dié voorval ook beveel om plat te lê. Die bestuurder van die winkel is daarna na die winkel se stoorkamer geneem waar die rowers nuwe skootre-kenaars en tablette van nagenoeg
R49 000 en R5000 kontant asook twee van die werknemers se selfone gebuit het.
Maandag 19 September het ’n leningsfirma deurgeloop onder twee gewapende rowers wat ook R80 000 uit die kluis gesteel het nadat hulle werknemers met kabelstroppe vasgebind het. In geen van die voorvalle is skote afgevuur nie.
Alhoewel sersant Masingi nie verdere inligting beskikbaar gestel het nie, het Noordelike Nuus ook verneem dat daar na bewering nog twee inbrake was by besighede in die industriële area gedurende die laaste twee weke.
Mokopane polisiekantoor se nuwe stasiebevelvoerder, Kolonel Leshoaneng Mantjane skryf die toename in gewapende roof toe aan ’n gebrek aan sekuriteit maatreëls. Hy sê mense word ook makliker geteiken omdat hulle nie bedag is nie. Hy wys daarop dat nie een van die betrokke ondernemings wat in die laaste paar dae deur rowers geteiken is, CCTV-kameras op hul persele het nie. Mantjane raai die gemeenskap aan om hulle sekuriteit op te skerp. Hy is oortuig dat misdadigers goed navorsing doen voordat hulle toeslaan.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube