<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Francois se sleutelbord is nou stil...

 

Francois Aucamp.

News : 27 Sep 2016 251 Viewed By Jasper Raats 0

Tzaneen het Maandagoggend aansienlik kouer gevoel as wat die termometer gelees het. Mens kon sommer voel, die man met die groot vuur in hom kom nie terug nie. Francois Aucamp (74), redakteur en uitgewer van die Bulletin op Tzaneen is verlede naweek in die hospitaal oorlede nadat hy vir 'n geruime las van Brongitis gehad het.

Hy word onthou as 'n koerantman met drukkersink wat amper hoorbaar deur sy are gebruis het. Vurig, vlymskerp en onwrikbaar. Hy het 'n hart vir gemeenskapskoerante gehad en het as ondersoekende joernalis, seker gemaak niemand vee enige ongerymdhede onder die tafel in nie, of dit nou was in sy tyd as die Uitvoerende Redakteur van die Noord Transvaler Metro of in die Bulletin wat hy in 2004 gestig het.

Volgens Netwerk24 het Francois sy loopbaan as joernalis by die destydse Oosterlig in Port Elizabeth begin, voordat hy ’n draai in Namibië gemaak het by die Suidwester.

Hy het sy eie gemeenskapskoerant, Swartland Monitor, op Malmesbury begin en was redakteur van Vista in Welkom in die Vrystaat voordat hy in die 1990’s die redakteur van die destydse Noord-Transvaler Metro in Pretoria was.

In die laat 1990’s is hy as redakteur van die destydse Noordelike Monitor in Polokwane aangestel.

Francois was 'n Perskor man, 'n oogappel van die destydse direksie en was geoormerk vir 'n redakteurskap van Rapport kort voordat Perskor deur Caxton gekoop is.

Vir 'n ligter koerantman sou dit 'n terugslag wees, maar vir Francois het die woord terugslag of huiwer nie bestaan nie. Hy het net een rigting en een spoed geken - volspoed vorentoe. In hierdie geval was vorentoe uiteindelik Laeveld toe, waar hy sy laaste groot spore getrap het.

Saam met Anton van Zyl van die Zoutpansberger en Wille Esterhuizen van Polokwane Observer, was hy 'n stigterslid van die organisasie wat uiteindelik LiN Media sou word, 'n onafhanklike koerantgroep wat gesamentlik bemark, oplei en ontwikkel in die gedrukte en elektroniese media.

Joernaliste, redakteurs, ontwerpers en bemarkers het die afgelope week van oral oor staaltjies oor Francois Aucamp se rol in hulle loopbane in koerante en op sosiale media gedeel. Hy word onthou as 'n streng dog regverdige redakteur met 'n oog vir detail, 'n sin vir netheid en ongeëwenaarde noukeurigheid. Hy het nie geskroom om 'n joernalis terug te stuur om 'n notaboek te gaan haal wanneer hy 'n storie opdrag gee nie. "'n Stomp potlood is beter as 'n skerp geheue," het hy dan verduidelik.

Francois word oorleef deur sy seun, Jean en ’n dogter, Bianca Aucamp (31). Sy oudste seun, Louw (39), is in 2006 aan kanker dood.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube