-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Louis Ruytenberg (19), ’n oud-leerder van Hoërskool Piet Potgieter en bekende sportman van die dorp het Sondagoggend op die R101 verongeluk.
“Dankie Heer dat u my die voorreg gegee het om my kind ook as my beste tjom kon ken,” was die betekenisvolle woorde van sy pa, Louis Ruytenberg senior, op sy Facebook-blad na sy seun se dood.
Louis is een van sowat vier jong mans van Mokopane wat in die afgelope vyf weke hul lewens in padongelukke verloor het.
Volgens ’n familie vriendin, Alta Bekker, is Louis tussen 02:00 en 02:30 naby Weenen Stene tussen Polokwane en Mokopane dood toe die bakkie waarin hy gery het, gerol het. Die oorsaak van die ongeluk is onbekend.
Louis en sy ouers was vroeër die aand saam in Polokwane en was op pad terug huis toe, toe die ongeluk gebeur het. Die egpaar het vroeër as Louis gery en is later, nadat hulle reeds by die huis was, in kennis gestel van die ongeluk. Hulle het na die toneel gehaas maar hul seun was reeds dood toe hulle daar kom.
Louis was ’n bekende motorrenjaer van die Mokopane Raceway klub, ook bekend as die Bosveld Wedren Klub. Hy het reeds op nege-jarige ouderdom vir die eerste keer agter die stuur van ’n renmotor ingeklim, al moes hy ’n kussing gebruik om mooi te sien. Louis het sedertdien sy passie vir renmotors uitgeleef en het baie goed in dié sport presteer. Hy het in ’n destydse onderhoud met Noordelike Nuus, toe hy nog 15 jaar oud was, gesê om om ’n ovaalbaan te jaag is sy passie.
Louis was saam met sy pa by Walter Staal werksaam.
Die wedrenklub het dit goedgedink om 15 Oktober se motorwedren in Mokopane aan Louis op te dra. “Hy was baie geheg aan sy gesin en ook soos ’n seun vir ons. Louis was ’n mentor vir potensiële jaers en ’n rolmodel vir jonger seuns met ’n liefde vir dié sport,” sê Bekker.
Louis word oorleef deur sy ouers Louis senior en Karien, sy sussie Eliska en boetie, Carlo (8).
Louis is Donderdag vanuit die Volle Evangelie Kerk (VEK) te ruste gelê.
0 Comments