-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – ‘n Plaasaanval het die lewe van ‘n bejaarde boer in die omgewing geëis toe drie rowers Poem Lamprecht (89) en sy vrou, Kotie (76), omstreeks 21:30 verlede Saterdagaand oorval het.
Die egpaar se tuise is op 'n plaas, 30km buite Lephalale. Volgens die polisie en media berigte is die egpaar deur drie verdagtes aangerand en beroof.
Volgens die familie het Kotie glo die aand die deur vir die rowers oopgemaak, omdat hulle onder die indruk verkeer het dat dit hul kleinseun was wat kom kuier het. Die aanvallers het na bewering Afrikaans gepraat. Hulle het die huis betree en vir Poem en Kotie aangerand.
Die egpaar is omstreeks 11:00 Sondagoggend deur hul dogter gevind. Poem het volgens berigte op die vloer gelê en was vol kneusplekke soos wat die verdagtes hom geskop en geslaan het. Kotie het ook kneusplekke oor haar lyf gehad asook ‘n harde hou oor die regteroog waar die aanvallers haar met ‘n flitslig geslaan het. Sy is in die Mediclinic in Lephalale opgeneem en Poem is op die toneel oorlede.
Poem was ‘n ou bekende in die Lephalale omgewing en verskeie staaltjies oor sy manhaftige geaardheid en liefde vir jag is die afgelope week oorvertel. Op Front Nasionaal se Facebook-blad skryf Hannes Engelbrecht dat Poem die laaste rondloper leeu in die Mogolrivier geskiet het en ook naam gemaak het as ‘n vernuftige jagter in Botswana.
“Rus sag, oom Poem. Die staaltjies oor jou sal jou naam nog lank uitdra,” skryf Engelbrecht.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort. Indien u enige inligting het oor die saak, kan u adjudant offisier H. Haasbroek op 084 644 9001 skakel.
0 Comments