-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Polisie is op soek na drie verdagte mans nadat Mokopane die afgelope twee weke lelik onder die aktiwiteite van 'n vermeende rowerbende deurgeloop het. Polisiewoordvoerder, sersant Irene Masingi sê sy vermoed ’n sindikaat is moontlik betrokke by vier rooftogte die afgelope twee weke.
Alhoewel daar twee mans by die eerste roof by Mokopane Mall betrokke was kan polisie nie die moontlikheid uitskakel dat ’n derde verdagte moontlik in die parkeerterrein gewag het nie.
Die rowers se vierde teiken binne enkele dae van mekaar af was toe PJP Sekuriteit van kontant beroof is nadat hulle Woensdagoggend by Absa in die Mokopane Mall wou geld bank.
Johan Kempen, ’n sekuriteit offisier en een van sy kollegas was met ’n PJP Sekuriteit geldwa en ‘n motor in die parkeerterrein toe hulle deur drie gewapende mans oorval is. Kempen is deur een van die verdagtes aan die arm gegryp. Die rowers het nadat hulle die geld gegryp het in ’n wit Volkswagen Golf met ’n GP registrasienommer op die vlug geslaan.
“Dit is sypaadjie rooftogte – gryp en hardloop,” het PJP se eienaar, Pieter Vorster, op die toneel aan Noordelike Nuus gesê. Hy sê hy is verlig dat niemand in die voorval beseer is nie. Geen skote is afgevuur nie en polisieondersoeke duur voort, het sersant Masingi gesê.
In die eerste voorval, op 7 November, is ’n sakevrou en haar kollega is beroof toe hulle op pad was na Standard Bank om geld te bank. Die tweede voorval was verlede Donderdag toe ’n werknemer van ‘n plaaslike onderneming volgens ooggetuies by Eerste Nasionale Bank gaan deponeer het en toe van ’n groot bedrag geld beroof is. Drie verdagtes in ’n wit BMW (ook met ’n GP registrasienommer) het glo op die vlug geslaan.
Sondagoggend het Ackermans in Thabo Mbeki rylaan deurgeloop toe die winkel beroof is van selfone ter waarde van nagenoeg R112 000. Saterdagoggend was daar ook 'n onsuksesvolle inbraak in Geyserstraat wat deur die alarmstelsel afgeweer is.
Sersant Masingi het gesê sy is bekommerd oor die situasie en hoop dat die Limpopo polisie meer mannekrag na Mokopane sal stuur om hulle te ondersteun en te help met misdaadbekamping oor die feestyd wanneer rooftogte toeneem.
In Lephalale, het die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) verlede week gewaarsku dat daar vermoedelik ’n sindikaat, afkomstig van Polokwane en Mokopane, mense teiken by ATMs. Hierdie kriminele beweeg van dorp tot dorp en teiken verbruikers wat nie paraat is nie. Thys Eloff, GPF voorsitter, waarsku inwoners om eerder ATMs in besige areas te vermy waar dit maklik is vir hierdie verdagtes om jou geld te gryp en te hardloop.
Mokopane GPF voorsitter, Andy Goetsch, het tydens Dinsdag se Besigheidskamer vergadering sakelui versoek om van hul CCTV-kameras na die straat te draai indien moontlik. “So kan ons, tot dat ons kameras kan installeer, die polisie help om hierdie kriminele vas te trek.”
Inwoners en sakelui word gemaan om versigtig te wees wanneer hulle geld deponeer of trek – gaan verskillende tye op verskillende dae sodat rowers nie ’n patroon kan vasstel nie. Indien u deur rowers gekonfronteer word is dit belangrik om kalm te bly en op te let hoe hulle lyk, watter klere hulle aan het ensomeer sodat hulle later uitgeken kan word.
Die Mokopane polisie het ’n selfoonnommer beskikbaar gestel wat in die gemeenskapsdiensentrum beman sal word ten alle tye. Die nommer is 079 951 5885.
Die Lephalale polisie kan ook 24-uur gekontak word op 014 762 1020.
0 Comments