-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Die logistieke nagmerrie en kostes verbonde aan die die trek van bloed by buffels voordat hulle geskuif kan word was een van die grootste besprekingspunte tydens ‘n vergadering Wildbedryf SA (WRSA) se Ellisras kamer Dinsdagmiddag by die Mogol klub.
Dr. Lucas Mampane, direkteur van Veeartseny Dienste in Limpopo, het probeer om sommige van die vrae wat deur die wildboere gestel is te beantwoord, maar hy het die vergadering daarop gewys dat hy volgens wetgewing en onder instruksie van die Nasionale kantoor moet optree. “Op die ou end gaan die wetgewing rakende die skuif van enige wild daaroor dat ons gesondheidsrisiko’s wil beperk en verhoed dat siektes versprei, maar die wet is nie in klip geskryf nie en ek sal enige voorstelle wat ons werk kan vergemaklik aan die nasionale kantoor voorlê vir oorweging,” het hy aan boere gesê.
Die wildsboere het kapsie gemaak teen die reël dat die staatsveearts altyd teenwoordig moet wees wanneer die buffels se bloed getrek word. “As ‘n privaat veearts die bloed trek maak dit tog nie sin om die staatsveearts ook daar te hê nie. Ek moes al in die verlede my werkers, die helikopter en ‘n privaat veearts op my plaas los en 500 km ry om die staatsveearts te gaan oplaai omdat hy nie ‘n voertuig gehad het om mee te ry nie,” het een boer genoem.
Dr. Mampane het die vergadering verseker dat daar nie ‘n verhouding van wantroue tussen die staat en privaat veeartse is nie, maar dat dit bloot in hierdie stadium wetgewing is. “As ‘n departement besef ons dat Limpopo een van die grootste uitdagings is wat wildsiektes betref. Hierdie provinsie grens aan verskeie lande en daarom maak dit ons werk soveel moeiliker, maar ons waardeer die bydrae wat die privaatsektor maak en sal enige voorstelle deur boere en ander belanghebbendes verwelkom.”
Die reis- en oortydtoelaag van staatsveeartse het ook onder die spervuur gekom met sommige boere wat beweer het die 2300km wat gereis mag word te min is en dat hulle die staatsveearts gereeld na-ure moet kontak omdat die afgeleë gebiede waarin hulle bedags werk selfoonontvangs beperk. “Die regering poog om uitgawes van staatsamptenare so laag as moontlik te hou maar dit moet natuurlik opgeweeg word teen die werklike uitgawes wat nodig is om ‘n effektiewe diens te lewer. Ons weet byvoorbeeld dat daar ‘n tekort aan voertuie is en het hierdie jaar geen nuwe voertuie ontvang nie weens omstandighede wat buite my beheer was, maar ek sou voorstel dat die boere saam met die departement aan ‘n oplossing werk. So kan wildsboere byvoorbeeld ‘n voertuig borg wat uitsluitlik vir buffel bloei gebruik kan word.”
Die voorsitter van WRSA se Lephalale bedryfskamer, Phillip Bronkhorst, het voorgestel dat Dr. Mampane sy antwoorde en voorstelle op skrif plaas sodat dit aan al die tak se lede voorgelê kan word om ‘n gesamentlike oplossing te vind.
0 Comments