<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Luiperdwelpie gevang in residensiële area

 

’n Luiperdwelpie is Saterdagoggend omstreeks 10:00 in inwoners se tuin opgemerk en kort daarna is die dier na die Mokopane Wildteëlsentrum geneem vir veilige bewaring.

News : 28 Nov 2016 341 Viewed By Martie Le Grange 0

’n Luiperd in Gamkastraat het behoorlik die tonge aan die klap. Jan Mallinson het die naweek die dier probeer opspoor saam met SOS Sekuriteit en sê die dier is laaste in ’n residensiële park tussen 19:00-20:00 gewaar. ’n Welpie is Saterdagoggend omstreeks 10:00 in inwoners se tuin opgemerk en kort daarna is die dier na die Mokopane Wildteëlsentrum geneem vir veilige bewaring.

Jan, wat as stokperdjie help om diere te vang en na plekke van veiligheid neem, sê dat ’n rondloperluiperdwyfie en haar welpies moontlik van buite die dorp langs die Nyl ingekom het.
Hy sê terwyl die welpie gevang is, is nog ’n luiperd gesien en aangemeld maar dat daar geen bewyse gevind is om die eis te staaf nie.

Mark Howitt, die bestuurder van die Mokopane Wildteëlsentrum en Loffy Malherbe van die departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme het Maandag aan Noordelike Nuus gesê hulle dra geen kennis van enige ander luiperd behalwe die een welpie wat gevang is nie.

Inwoners het hulle na Facebook gewend na gerugte oor ’n luiperd wat geskiet is. Howitt en Malherbe
ontken enige kennis van enige luiperds (vroulike of bykomende welpies) wat geskiet is en het gesê sulke bewerings word in 'n baie ernstige lig beskou. “Die hantering van enige wild moet baie streng deur Natuurbewaring goedgekeur word,” het Howitt gesê.

Howitt sê mense moet onthou hulle is omsingel deur wilde diere en daarom is dit nie só ’n rare verskynsel om wilde diere in die dorp of in die residensiële buurte te gewaar nie.

Die mannetjie welpie (sowat 4 of 5 maande oud) sal by die sentrum gehou word totdat ’n behoorlike rehabilitasie fasiliteit vir hom gevind is. “Dit sal heel waarskynlik binnekort wees,” het Howitt gesê.


Op hierdie stadium is dit nie duidelik of die welpie se ma nog in die omgewing is en of die welpie op sy eie rondgeswerf het nie. Mallinson maan inwoners om nie nader te gaan of geraas te maak as hulle wilde diere sien nie. Die dier of diere moet eerder van 'n afstand dopgehou word.  Kontak dan vir Mark Howitt by 082 496 1800 of Natuurbewaring by 015 491 8010/8011 om hulle in staat te stel om die dier/e te vang en te neem na 'n plek van veiligheid.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube