<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Vreemde wending in juwelier verhoor

 

Getuies in die Juwelier verhoor sit in afwagting op die bankie en een selfs op ’n kampstoel en piekniekmandjie by die Mokopane streekhof.

News : 05 Dec 2016 1046 Viewed By Martie Le Grange 0

MOKOPANE – Die diefstal verhoor van die voormalige juwelier van Simoné van Wyk wat Dinsdag voor die Mokopane streekhof voorgekom het, het ’n vreemde wending geneem toe Van Wyk tydens die verhoor ’n sak met juwele, klaarblyklik van kliënte uit haar handsak haal en aan die hof voorlê.

Van Wyk is ‘n jong vrou wat teregstaan op 12 aanklagte wat verband hou met die verdwyning van juwele ter waarde van sowat R500 000 uit haar destydse juwelierswinkel, Die Goudsmit.

Sy is reeds in 2014 deur verskeie kliënte van bedrog beskuldig na bewerings dat hulle juweliersware skoonveld verdwyn het nadat dit by haar destydse juwelierswinkel ingegee is.

Oud-inwoner van Mokopane, Jeanette van der Merwe, het Dinsdagoggend saam met nege ander getuies by die hof opgedaag. Sy was eerste aan die beurt in die getuiebank. Sy beweer sy is verkul met juwele ter waarde van nagenoeg R78 000. ’n Sentimentele pêrel armband van haar ma wat sy ingegee het saam met twee goue kettings is na bewering nooit deur die beskuldigde aan haar terugbesorg nie. Van Wyk het glo aan Van der Merwe gesê die kettings is gesteel. Van der Merwe het gesê sy het vir Van Wyk die voordeel van die twyfel gegee nadat Van Wyk belowe het om die kettings te vervang maar haar beloftes het niks opgelewer nie.

Nicky Bosman, Van Wyk se regsverteenwoordiger, het vir Van der Merwe ondervra en daarna vir die hof gesê dat sy kliënt in die besit is van ’n sak met juwele en voorgestel dat Van der Merwe na een van die stukke kyk. Volgens Bosman se kliënt (Van Wyk) is die pêrel armband in die sak, dié van Jeanette van der Merwe (getuie). Van der Merwe het egter daarna gekyk en nie die armband herken nie. Die staatsaanklaer, Liezl del Frate, was verbaas dat dié juwele in die beskuldigde se besit was en nie aanvanklik aan die ondersoekbeampte oorhandig is nie.

Ander getuies het ook hulle beurt in die getuiebank gehad. Almal was dit eens dat hul juwele wat by haar ingegee is skoonveld verdwyn het.

Die beskuldigde het roerloos in die beskuldigdebank gesit en nie veel emosie getoon nie. Sy (Van Wyk) sal na verwagting op 1 Februarie weer voor die Mokopane streekhof verskyn.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube