<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Bosveld krioel van die slange!

 
News : 17 Jan 2017 7345 Viewed By Helena Raats 0

LEPHALALE – Binne die eerste twee weke van 2017 het Marius Koekemoer van Reptile Rescue al 54 slange in die Lephalale-omgewing gevang. Dit sluit uiters giftige slange soos boomslange, swart mamba’s, Mozambiekse spoegkobras, wipneuskobras en pofadders sowel as luislange en bruin huisslange in.

“Somertyd is nou maar een maal die slange se tyd in die Bosveld,” verduidelik Marius, wat nou al vir amper ‘n dekade lank slange, likkewane, skerpioene en ander gediertes verwyder van persele in die Lephalale-omgewing.

Hy vertel dat hy net verlede week ’n 2.55m swart mamba gevang het, maar die hoogtepunt sovêr was die 4,58m luisslangwyfie met 31 kleintjies wat hy op 4 Januarie op ‘n plaas naby Steenbokpan gevang het.

Sy is nou nie die grootste luislang wat Marius al gevang het nie, maar teen 4,58m sou mens nie graag teen haar wou vasloop in die veld nie. Wat dié luislang wyfie meer besonders maak is dat Marius haar saam met 31 baba slangetjies gevang het (dis nou buiten die 34 leë eierdoppe wat ook in die gat gevind is!).

Marius vertel dat die boer al ’n geruime tydjie bewus is van die luislang. Hy het haar dopgehou deur middel van kameras en toe hy sien daar seil baba slangetjies uit die gat uit het hy besluit om Reptile Rescue in te roep. “Die sterftesyfer onder slange is geweldig hoog, daarom sal daar dalk net vyf van die 34 slange wat reeds uit die gat geseil het dit maak tot volwasse ouderdom.”

Hy vertel dat luislange nie werklik ’n probleem is vir boere nie en dat hul hoofmaaltye bestaan uit roofdiere soos jakkalse en rooikatte. “So groot slang sal dalk een bok of kalf doodmaak in drie maande,” sê hy en beaam dat hulle dus eintlik voordelig is.

“Vandat boere begin het om skaars wild en kleur variante in te bring soos goue wildebeeste, swart rooibokke en swartwitpense, het hulle ook begin om van luislange ontslae te raak,” verduidelik hy. “Luislange is besig om hul natuurlike habitat heeltemal te verloor.”

Daar is verskeie wildsplase wat Reptile Rescue toelaat om die slange by hulle vry te laat, maar Marius maan boere met baie grond om hul grond aan te bied vir rehabilitasie.  

 

Giftige slange

Marius vertel dat een dosis teengif gemaak word van 10 verskillende soorte slange se gif, maar dit is die swartmamba se gif wat die skaarste is. Hoewel hy gratis slange by privaat wonings uithaal, sê hy min mense kontak hom oor swartmambas omdat hulle verkies om die gevreesde slang dood te maak. “As mense net wil besef dat dit moontlik is om ‘n swartmamba te vang. Jy hoef hom nie dood te maak nie. Hy val ook nie mense aan nie. Solank hy, veral in paartyd, nie bedreig word of beseer is nie, sal hy probeer wegkom.”

Die swart mamba kom algemeen in die Bosveld voor en is ‘n senuagtige slang wat ‘n mens kan aanval as dit vasgekeer voel - die beste optrede is om stadig agteruit te beweeg as jy hierdie kenmerklik donkergrys slang raakloop.
Die Mosambiekse spoegkobra is nog ‘n slang wat daarvan hou om in die aande rond te beweeg en soms in motors te gaan wegkruip. “Hierdie slange is baie nuuskierig en ek het al ‘n paar keer van hulle uit kaste, tasse en karre gaan haal. Hulle is baie giftig en as iemand nie betyds mediese hulp kry nie kan die gevolge noodlottig wees.”
Soos die Mosambiekse spoegkobra is die pofadder sitotoksies, maar wat hierdie slang besonders maak is sy fantasties gekamoefleerde liggaam. “Hierdie slang beweeg stadiger as van die ander slange terwyl sy unieke kleur en patroon hom amper perfek by sy omgewing laat insmelt.”
 

Liefde vir slange

Marius het as sesjarige seuntjie sy eerste slang, ‘n swart rinkhals, gevang. Die pakslae wat hy daardie dag gekry het, het hom nie ontmoedig nie.

“My ouers het my verbied om slange aan te hou so ek het tot ek 14 jaar was skelm slange gevang en weer laat gaan. My ma het gesien sy gaan nie hierdie ding uit my uitkry nie en het toegegee dat ek slange mag aanhou mits ek elkeen uit ‘n boek kan identifiseer en weet of hy giftig is, al dan nie. Vandag, 30 jaar later, vang ek nog slange. Ek doen dit omdat ek ‘n passie daarvoor het.”

Vandag het hy 11 slange wat hy as troeteldiere aanhou, maar sê dat elke slang wat hy vang sy hart laat warm klop. Dit is lekker om hulle veilig te hervestig en te help bewaar.
 

Gemeenskapsdiens

Met Eskom se beleid dat geen diere op Eskompersele doodgemaak mag word nie, word hy gereeld uitgeroep om slange op Medupi-,  Matimba-kragstasies of by Eskom behuisingeenhede uit te haal.

Marius bied ook opvoedkundige praatjies by skole, besighede en kinderpartytjies aan. Alhoewel Reptile Rescue nie aandring op betaling by privaatwonings nie, is hulle totaal afhanklik van skenkings en donasies.

“Nie almal kan altyd R100 betaal nie, so ons aanvaar selfs plastiek houers waarin ons die slange kan vervoer,” sê hy.

Gee maar gerus 'n donasie as Marius by jou huis 'n dodelike slang verwyder, wie weet dalk red hy jou, jou huismense of een van jou troeteldiere se lewe deur die dierasie te verwyder.

Skakel Reptile Rescue gerus by 072 174 6970.

 

 

 
 

Hierdie boomslang het Marius verlede week in Waterbessie straat gevang.

Pragtig en dodelik - 'n joing boomslangetjie.

“Vandat boere begin het om skaars wild en kleur variante in te bring soos goue wildebeeste, swart rooibokke en swartwitpense, het hulle ook begin om van luislange ontslae te raak,” verduidelik hy. “Luislange is besig om hul natuurlike habitat heeltemal te verloor.”

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube