<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Nylboere en platinum groep pak mekaar oor Grass Valley

 
News : 24 Jan 2017 944 Viewed By NoordNuus reporter 0

Die Nyl Aksiegroep en Sylvania Platinum stamp alweer koppe oor dié maatskappy se planne om die ou Grass Valley myn naby Mokopane te heropen. Die departement van minerale hulpbronne het Sylvania se omgewingsaansoek in Desember goedgekeur, maar die Nyl Aksiegroep sê nou in sy appél teen hierdie goedkeuring dat die aansoek onvolledig is en dat mynaktiwiteite nie toegelaat mag word nie.

Die groep het die hulp van Thinus Oosthuizen, 'n ervare omgewinskonsultant van die maatskappy AEMS Consulting Trust, ingeroep. Hy sê onder meer daar is nie genoeg inligting vir die departement om die projek in sy geheel te evalueer of om die aansoek te aanvaar nie. Hy wys daarop dat die hidrologiese konsultant, Geo Pollution Technologies, dit duidelik maak dat die inligting in hul studies net genoeg is om die potensiële impak van die oorwerk van ou mynhope te evalueer. Oosthuizen sê 'n laat versoek van Sylvania dat Geo Polution Technologies ekstra mynaktiwiteite by die studieveld moes voeg sonder ekstra tyd of vergoeding om die ekstra studies behoorlik uit te voer wek kommer.

Hy sê 'n aansienlike lys ekstra studies gaan nodig wees vir genoegsame inligting om die impak van verdere mynaktiwiteite soos oopgroewe en ondergrondse mynwerk te evalueer.

Hy sê verder sonder die genoemde inligting sal die departement van water en sanitasie ook nie 'n waterlisensie kan toestaan nie en beveel dus aan dat alle departementele toestemmings wat tot op hede aan die projek toegestaan is teruggetrek of ter syde gestel word tot tyd en wyl daar voldoende bewyse is dat alle potensiële negatiewe impakte wat uit die beplande projek mag spruit bestuur en tot aanvaarbare vlakke beperk kan word.

Sylvania se projekbestuurder vir Grass Valley, Albert Jordaan, sê die appèl is gebasseer op die verkeerde veronderstelling dat die oopmaak van die ou ondergrondse myn deel van die aansoek is. "Ons aansoek is net om die ou mynhope oor te werk en dan vlak oopgroewe te myn, nie dieper as 45m nie. Ons het reeds data wat wys dat boere in die omgewing suksesvol kon besproei wanneer die watertafel tot onder 45m daal. Ons aktiwiteite sal dus nie op boere se water impakteer nie," sê Jordaan.

Hy stem saam dat verdere studies gedoen sal moet word alvorens Sylvania kan aansoek doen vir toestemming om ondergronds te myn.

Die mynmaatskappy kan nou repliek op die appèl lewer en dan kan die Nyl Aksiegroep nog een keer daarop reageer voordat die departement van Omgewingsake 'n beslissing moet maak. Die Nyl Aksiegroep staan ook Sylvania se aansoek om langs die Nylrivier by Volstpruit te myn teë.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube