<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Opposisie partye staan onreëlmatige belegging tee

 
News : 26 Jan 2017 900 Viewed By Helena Raats 0

MOKOPANE – Die VF Plus se Limpopo leier, Marcelle Maritz, het kragte gesnoer met die onderskeie opposisie partye in Mokopane, om te keer dat die Mogalakwena Stadsraad na bewering miljoene onreëlmatig by VBS Mutual belê.

Terwyl die Openbare Beskermer (OB) nog nie gereageer het om die VF Plus se vrae oor die bank wat glo R7,8 miljoen aan pres. Jacob Zuma vir sy Nkandla-skuld geleen het nie, het die party se Limpopo leier gekeer dat die stadsraad van Mogalakwena (wat Mokopane insluit) na bewering R100 miljoen onreëlmatig by die bank belê.

Volgens adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter en leier in Gauteng, het Maritz op 13 Desember agtergekom die stadsraad beplan om die geld by VBS te belê.

VBS Mutual bank, wat bekendheid verwerf het nadat dit ‘n lening aan pres. Zuma toegestaan het, het in 1982 sy deure oopgemaak as die Venda Building Society en het in die vroeë 1990s, volgens Maroela Media, ’n onderlinge bank (‘’n bank wat deur sy deposante besig word) geword met meeste van sy klante in Limpopo.

Alberts sê dat die onreëlmatigheid op die lappe gekom het nadat die beleggingstydperk van die geld, wat voorheen by Standard Bank belê was, verstryk het en die geld herbelê moes word. Die Mogalakwena raad se eie regulasies bepaal dat die geld net by een van die erkende banke herbelê kan word.

Maritz het toe, volgens ‘n persverklaring van die VF Plus, die saak met die waarnemende munisipale bestuurder bespreek, maar het geen hulp van hom gekry nie en noem dat die burgemeester, Andrina Matsemela, nie beskikbaar was nie.

“Sy het daarna die opposisiepartye byeengeroep in ‘n uitstaande voorbeeld oor hoe partye teen ‘n meerderheidsparty kan saamwerk en het aan die raad ‘n brief geskryf waarin gesê is dat die partye van die aangeleentheid bewus is en nie sal huiwer om strafregterlike klagte in te dien sou die transaksie voortgaan nie.

“Die plan is toe laat vaar en die geld is by Standard Bank herbelê. Hierdie is ‘n uitstaande illustrasie van die waghond rol wat opposisie partye teen die regerende party kan en moet speel,” lui die VF Plus se persverklaring.

Noordelike Nuus het die Mogalakwena Munisipaliteit se woordvoerder, Malesela Selokela, genader om hul kant te stel, maar hy het net bevestig dat die kwessie tans ondersoek word en het gesê dat hy nie kan kommentaar lewer totdat die ondersoek afgehandel word nie.

Intussen het die EFF in Limpopo, die hoë hof in Polokwane genader om die waarnemende munisipale bestuurder, Sam Bambo, uit sy amp te verwyder. Die hof het die het die aansoek toegestaan. Die EFF hou vol dat die regte procedure nie gevolg is vir Bambo se aanstelling nie.

Die Mogalakwena Munisipaliteit gaan al vir vier jaar gebuk onder binne gevegte onder ANC faksies. Die munisipaliteit het reeds vyf burgemeesters in vyf jaar gehad en bestaan uit 32 wyke, 189 nedersettings en ‘n begroting van meer as R1.1 biljoen vir die 2016/17 finansiële jaar.

 

 

 
 

Marcelle Maritz.

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube