<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Potties se Mia op The Voice!

 

Mia en ​Kahn Morbee op die verhoog tydens The Voice kompetisie Sondag.

News : 27 Feb 2017 2955 Viewed By Helena Raats 0

Mokopane beskou wel vir Mia Louw as hul eie, maar eintlik studeer sy al twee jaar in Potchefstroom (NWU Pukke) sedert sy in 2014 haar matriek by Hoërskool Piet Potgieter voltooi het. Sondagaand het Mia gewys waarom sy al sedert haar laerskool dae 'n sangeres wou word toe Kahn Morbee (van Parletones) haar gekies het om by sy span aan te sluit tydens MNET se The Voice kompetisie.
​Mia het 'n kans gevat en Bobby van Jaarsveld se "'n Vrou wil dit hoor" gesing met die hoop dat hy sy stoel sou draai, maar dit was Kahn wat die sterkwaliteit in haar stem gehoor het.

The Voice werk op stemme en almal wat Mia ondersteun word aangemoedig om gerus op YouTube vir haar video te gaan stem en haar te ondersteun deur die loop van die kompetisie wat Sondae om 17:30 op MNET uitgesaai word.

Mia was maar nog 'n tiener toe sy reeds saam met bekende kunstenaars soos Kurt Darren, Theuns Jordaan en Antonie Bougas van Supersterre opgetree het. En haar sukses as jong sangeres ten spyt, het sy haar voete vas op die aarde. Mia het in 2009 al haar eerste musiek video gemaak (nadat sy 'n kompetisie wat deur Bougas aangebied is gewen het). In 2010 het sy aan die Limpopo SA Talentkampioenskappe deelgeneem en nasionaal goud verwerf in vier genres.
In 2012 (toe sy maar 16-jaar-oud was) het sy vir Noordelike Nuus vertel dat sy dalk sielkunde wil gaan studeer, maar sy het in 2014 op onderwys besluit en het die afgelope paar jaar by Laerskool Krugerpark ondervinding opgedoen.

Tydens haar hoërskooljare het Mia gereeld by funksies in die dorp asook die jaarlikse Kierieklapper Kunstefees opgetree. Sy het ook gereeld in Polokwane en ander dorpe opgetree en vinnig vir haarself naam gemaak.

Mia se ma, Mercia Pretorius, het destyds aan Noordelike Nuus vertel dat dit baie uithouvermoë verg om op 16 al 'n sangloopbaan te hê, maar gelukkig was Mia volwasse genoeg om skool en haar sangloopbaan te balanseer het sy gesê.

​Amper vyf jaar later sit die hele Mokopane vasgenael voor die TV skerms en almal hou duim vas dat Mia se ster net al hoe helderder sal aanhou skyn!

​Op haar Facebook-blad vra Mia dat almal op Youtube na haar opvoering sal gaan kyk. "Gaan kliek op daai regop duimpie asseblief julle!"
Noordelike Nuus het klaar op daardie duimpie geklik - nou waarvoor wag julle? Gaan ondersteun vir Mia!

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube