<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Alles moontlik gedoen om Scott te vind

 

Scott van Zyl is sedert 7 April 2017 vermis in Zimbabwe. Foto: Facebook.

News : 12 Apr 2017 21903 Viewed By Helena Raats 0

ZIMBABWE - Alles denkbaar word gedoen om Scott van Zyl, die 44-jarige professionele jagter van Marken, wat Vrydagmiddag vermis geraak het in Zimbabwe, te vind. ‘n Video wat tans op Facebook versprei word wys word hoe ‘n pamflet met ‘n $5 000 beloning uit ‘n helikopter op ’n klein afgeleë nedersetting gegooi word, in 'n desperate poging om Van Zyl op te spoor.​

Die reuse soektog, wat drie helikopters en polisie duikers insluit, duur vandag voort en volgens Salome de Villiers, ’n beroepsjagter en stigter van die GoFundMe-blad vir Van Zyl se reddingspoging, word al die moontlike gedoen om hom te vind.

Scott, eienaar van SS Pro Safari’s, het vroeër in April saam met ’n groep buitelandse jagters in Zimbabwe gaan jag. Hy het op 7 April saam met sy honde en  ’n spoorsnyer vanuit die Chikwaraka-kamp in Zimbabwe veld toe gegaan om glo na een van sy honde te gaan soek. Die honde het later sonder Van Zyl teruggekeer en dit blyk dat hy en die spoorsnyer iewers in verskillende rigtings beweeg het. Die spoorsnyer het Van Zyl as vermis aangemeld.

Volgens Media24 is sy geweer in sy bakkie gevind en sy persoonlike items, waaronder sy rugsak en GPS-stelsel naby die Limpopo-rivier gevind is. De Villiers het bevestig dat die Limpopo Jagters Skakelforum (Limpopo Hunters Liason Forum), Heritage Protection Group (HPG), Ripcord, Zimbabwe Professionele Jagters en Gidsvereniging (ZPHGA) en die Suid-Afrikaanse SAPS en Weermag van die organisasies is wat betrokke is by die soektog.

De Villiers sê dat die hoop is dat die $5 000 beloning enige iemand met enige inligting sal aanmoedig om na vore te kom. Sy sê dat die area moeilik is om in te beweeg en dat daar baie mense op die grond sowel as in die lug is wat na enige teken van Van Zyl soek. “Hou aan bid vir Scott en sy familie,” het sy op haar Facebook-blad geskryf. “Alles is in God se hande en alles wat moontlik gedoen kan word om hom te vind word gedoen.”

Enige iemand met enige inligting kan HPG se Col. Sakkie Jooste skakel by 072 798 7954. Enige iemand wat wil bydra tot die reddingsfonds, kan na die GoFundMe-blad gaan, volg hierdie skakel: https://www.gofundme.com/search-rescue-scott-van-zyl.

Intussen stroom boodskappe ter ondersteuning in na Suré van Zyl, Scott se vrou, se Facebook-blad. Die egpaar het twee jong kinders, onderskeidelik sewe en 11-jaar oud. Vroeër die week, het Suré almal bedank wat betrokke is by die soektog om haar man op te spoor. “Mag God hom veilig bewaar en al die reddingspanne seën.”

Sien die video hier: https://www.facebook.com/salome.devilliers.7/videos/10156682307633644/

 

 

 

 
 

Van die helikopters wat gebruik word om Scott op te spoor. Foto: Go Fund Me/Salome de Villiers

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube