<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Vrou boer vooruit met rotte en muise

 

Engela Meintjies en haar dogters, Izaan en Anmari met van die krimpvarkies wat baie gesogte troeteldiere is in Suid-Afrika.

News : 18 Dec 2017 2796 Viewed By Jasper Raats 0

Engela Meintjies van Mokopane het gou besef dit gaan 'n fortuin kos om muise te koop om die vier uilkuiens wat in haar sorg geplaas is elke dag te te voer. Aanvanklik het sy beesharte in blokkies gesny, maar later moes die uile leer om hul natuurlike prooi te eet sodat sy hulle weer in die natuur kon vrylaat.

Dit het beteken sy moes vier muise per dag vir elk van die vier uile koop en muise by die troeteldierwinkel het haar R10 per muis gekos. Engela het lewendige muise, tien wyfies en vier mannetjies, gekoop en haar eie teelprogram van stapel gestuur om die uile te voer.

Vyf maande later was die uile gereed om vrygelaat te word en toe moes sy 'n ander mark vir haar muiskleintjies kry, want muise teel nogal fluks aan as daar nie uile is om hulle te vreet nie.

Dit was 2006 en vandag lewer Engela omtrent 500 muise per week aan troeteldierwinkels in Mokopane en Polokwane en sy is besig om haar boerdery uit te brei. Haar doel is om uiteindelik 2000 muise per week te lewer.

 

AANWAS SOOS MIN

Sy boer tans met net oor die 800 broeiwyfies wat elke drie tot vier weke 'n werpsel klein muisies voortbring. Die grootte van die werpsels wissel. Jong wyfies kry tussen twee en agt kleintjies en 'n wyfiemuis kan so jonk as ses weke oud al geslagsryp wees en nadat sy gedek is dra sy vir 19 tot 21 dae. Engela se ouer wyfies kry tussen 14 en 17 kleintjies op 'n slag. Sy speen hulle tussen 21 en 28 dae deur die jong muisies uit hul geboortehokke te verwyder en saam in groter speenhokke te plaas.

In die teelhokke is daar vyf broeiwyfies per hok en een mannetjie. Hoewel die muise 'n gemiddelde leeftyd van so 'n jaar en ses maande het, vervang Engela haar teelwyfies na nege maande wanneer hulle produktiwiteit begin afneem.

Sy hou noukeurig boek van die produktiwiteit van elk van haar 160 teelhokke en hou wyfies uit die mees produktiewe hokke terug om ander hokke se ou wyfies te vervang. Engela verduidelik dat mens 'n hele teelhok se muise op 'n slag moet vervang omdat die wyfies nogal onverdraagsaam is teenoor nuwe intrekers en hulle 'n nuwe mannetjie byvoorbeeld sonder om te skroom sal doodbyt. As een van haar mannetjies in 'n hok dus iets oorkom, moet daardie hele hok vervang word, mens kan nie net 'n nuwe mannetjie ingooi nie. Hoewel sy van haar produktiewe hokke se mannetjies soms terughou is sy baie versigtig om bloedlyne af te water. Sy koop eerder elke ses maande nuwe mannetjiesmuise by troeteldierwinkels in Pretoria aan.

 

MEER AS NET MUISE

Die vraag na muise het Engela aangespoor om ook ander diere vir troeteldierwinkels te begin teel. Die vraag na rotte is byvoorbeeld ook sterk en Engela het 35 rotwyfies wat ook elke 21 dae vir haar 'n werpsel van gemiddeld 20 kleintjies op 'n slag lewer. 'n groot verskil tussen die mark vir rotte en muise is dat daar van dag een na geboorte al 'n mark vir muise is. Die klein haarlose muiskleintjies staan in die troeteldierbedryf bekend as "pinkys" en is sterk in aanvraag onder eienaars van kleiner slangspesies. "Fuzzys" is muise wat al 'n laag donshaar op het en muise van so drie weke oud staan bekend as "Hoppers". Daar is ook 'n gesonde vraag na muise in hierdie twee stadiums sowel as volwasse muise. Handelaars verlang egter rotte wat reeds gespeen is.

Engela lewer diere slegs op bestelling en lewer al haar diere lewendig aan troeteldierwinkels. Muise en rotte wat reeds gespeen is word in plastiese kratte met geventileerde deksels vervoer en die "pinkeys" word in plastiese hamburgerhouertjies wat sy van 'n verpakkingsmaatskappy aankoop vervoer.

Die muise en rotte vreet hondepille wat Engela in grootmaat aankoop en eenmaal per week kry hulle sonneblomsaad. Dit vul die wyfies wat kleintjies het se voeding aan, verduidelik Engela. Sy maak ook 'n spesiale mengsel medisynewater aan wat sy eenmaal per week in die muise en rotte se drinkwaterbottels gooi. Die waterbottels is gewone glashouers waarin mens mayonaise, ingemaakte beet of grondbootjiebotter koop. Daar word klein gaatjies in die deksels gemaak en die bottels staan dan onderstebo op die muishokke. Die water loop nie uit nie, maar die muise het sommer gou geleer dat die water stadig uitdrup wanneer hulle aan die gaatjies lek.

 

GESONDHEID IS BELANGRIK

Die muise is vatbaar vir respriatoriese siektes wat hulle kry wanneer wilde rotte oor hul hokke hardloop en in die teelhokke mis en urineer. Engela het aan die begin geeksperimenteer met vitamien aanvullings en medisyne wat 'n mens vir voëls ingee wanneer hulle sulke longkwale onder lede het. Haar mengsel bevat onder andere AVI Plus, 'n vitamienaanvulling vir voëls. Vandat sy dit gebruik is haar verliese aan vrektes oor respiratoriese siektes aansienlik minder.

Die blokkiesdraad waaruit haar hokke gemaak is se gaatjies is baie klein en net die dunste slange sal daardeur kan kruip. Engela sê sy het oor die afgelope 11 jaar nog net drie slange in haar muisboerdery gevang, 'n Egiptiese kobra, 'n groterige mamba en 'n jong luislang - al drie te groot om by die hokke in te kom.

Sy sê dit is ook belangrik om die diere se hokke skoon te hou. Daar is egter 'n fyn balans tussen so aanhoudend skoonmaak dat dit die telery ontwrig en te lank los en dan met siektes te sukkel. Engela kyk al haar hokke elke oggend deur wanneer sy die diere kos en water gee. Hokke wat vuil is word sommer daar en dan skoongemaak.

 

GEMAKLIKE KNAAGDIERTJIES

In die somer sit sy waaiers in die hokke om haar boerdery teen die Bosveld hitte te beskerm en in die winter skakel sy saans verwarmers aan om die muise teen die ergste koue te beskerm. Oprol seile word ook gebruik om lugvloei deur die boerdery te reguleer. Die hele boerdery is in 'n buitegebou so groot soos drie motorhuise.

Sy is ook al ewig op soek na koerantpapier wat sy deur 'n snippermasjien voer en dan in die muishokke gooi vir die wyfies om mee nes te maak. Die koerantpapier is goedkoop om gereeld te vervang en bied goeie isolasie, sê Engela.

Sy glo 'n groot deel van haar boerdery se sukses lê in die aandag wat sy aan haar teeldiere se behoeftes skenk. Sy sê dit is die goue reel ongeag die dier waarmee 'n mens boer en sy sal weet, want behalwe vir die muise en rotte boer sy ook met marmotte, angora hase, parakiete, koketiele, ringnek papagaaie wurms en krieke.

 

DIERE VIR DIE TROETELMARK

Haar marmotboerdery bestaan uit 50 produksiewyfies wat elk tussen vier en ses kleintjies elke twee maande kry en Engela sê hoe meer kroontjies die marmotte het, hoe meer geld verdien hulle. Sy selekteer dus vir kroontjies en haarlengte omdat kopers marmotte met langer hare verkies.

Sy het haar haarboerdery nou ook na Angora hase oorgeskakel nadat sy besef het die vraag na gewone troetelhase is nie groot genoeg nie. Die Angora hase is meer werk aangesien hul lang hare gereeld skoongemaak en gekam moet word, maar 'n mens verdien tussen R100 en R150 per haas.

Sy het ook tien ringnek papegaai broeipare wat elk twee tot vier kuikens per jaar uitbroei. Haar 12 parakietbroeipare het nie 'n broeiseisoen nie, hulle lê eiers soos hoenders en elke hennetjie broei tussen drie tot ses kuikens op 'n slag uit. Die koketiele broei ook tussen drie en vyf kuikens per jaar per broeipaar uit en Engela het 9 broeipare.

 

GOGGAS VIR REPTIELE

Engela het oor die jare gesien die troeteldiermark gaan oor baie meer as net oulike klein diertjies soos hamsters en parakiete. Behalwe vir slange wat muise en rotte vreet is daar ook mense wat spinnekoppe en ander reptiele aanhou. Daarom het sy onlangs begin om ook met meelwurms, superwurms en krieke te boer.

Die meelwurms en superwurms is die larwes van besies wat elk tussen 5000 en 8000 eiers op 'n slag lê. Elke eier se wurm bereik egter nie volwassenheid nie, die mortaliteit onder die klein wurmpies is nogal hoog, sê Engela. Drie maande na die wurms eiers gelê het broei dit uit en die wurms bereik na twee maande volwassenheid. Die wurms woon in plastiese houers vol semels. Die semels is ook hulle kos en Engela gee vir hulle gerasperde wortels as aanvulling. Sodra die wurms volwassenheid bereik word hulle papies en twee weke later is daar weer 'n generasie besies wat na vyf dae weer duisende eiers lê en dan vrek. Die dooie besies voer Engela vir haar krimpvarkies. Sy boer egter nie meer met krimpvarkies nie omdat die mark vir hierdie oulike diertjies versadigingspunt bereik het. Die superwurms is aansienlik groter as die meelwurms, maar het min of meer dieselfde metamorfiese siklus.

Die bruin huiskrieke acheta domestica, word kommersieël in Thailand verbou as proteinbron vir mense, maar Engela se krieke word gebruik om reptiele en spinnekoppe te voer.

 

LIEF VIR ALLE DIERE

Engela het nog 'n hele klomp ander diere om haar huis op die werf, 'n trop honde, twee chinchillas, slange, krimpvarkies, hoenders en haar man, Hannes boer met kalkoene terwyl haar twee dogtertjies, Anmari en Izaan hulle eie hamsterboerdery bedryf. Sy hou perde op Mokopane se skougronde aan waar sy in die middae perdrylesse aanbied en Saterdae bied sy opleiding vir honde en hul eienaars aan in algemene gehoorsaamheid, spoorsny en aanvalswerk. Sy pas boonop ander mense se diere op as hulle weggaan met vakansie. "Diere is my lewe," sê sy.

Kontak vir Engela by: 082 979 5997

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube