<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Haatspraak of voorspraak?

 
News : 23 Sep 2011 174 Viewed By Valerie Cilliers 0

Nadat Regter Colin Lamont verlede week in die gelykheidshof in Johannesburg beslis het die lied “Dubul iBunu” (Skiet die boer) ís haatspraak, is ‘n hewige debat ontketen.
Lamont het in sy uitspraak gesê die lied ondermyn menseregte en is skadelik en diskriminerend. Hy het bevind geen regverdiging bestaan om die lied te sing nie.
Voormalige streeksleier van die ANC jeugliga en tans ANC-raadslid van die Lephalale munisipaliteit, Jack Maeko, het hierdie week aan Noordelike Nuus in reaksie op die haatspraak-uitspraak gesê dat die ANC die regsisteem respekteer. Hy meen egter dat die liedjie verkeerdelik geinterpreteer word as haatspraak.
“Die ANC is ‘n nie-rassige organisasie, die lied het niks te doen met die uitmoor van wit Suid-Afrikaners nie, dit is deel van die land se geskiedenis en is deel van die ANC se stryd teen apartheid,” meen Maeko.
Die burgerregtegroep, AfriForum, wat die saak aanhandig gemaak het is verheug oor die uitspraak. “Dit stuur ‘n duidelike boodskap aan die ANC Jeugliga se Julius Malema - dat hy nie verhewe bo die reg is nie en dat hy nie kan maak soos hy wil en polarisasie saai soos hy wil nie,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.
Intussen het die ANC se Gwede Mantashe, Maandag aan die media gesê dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee sy verbintenis tot die beskerming van sy erfenis beklemtoon deur teen die hofuispraak te appelleer.
“Gesprekke oor die kwessie van erfenis moet aangemoedig word sodat Suid-Afrikaners ’n gemeenskaplike erfenis kan vind.
“’n Land sonder geskiedenis of erfenis is soos ’n boom sonder wortels,” het Mantashe gesê.
In reaksie hierop het Kriel in ‘n verklaring gesê dat dit onwys is dat die ANC wil voortgaan om te veg vir die reg om Afrikaners te verontmenslik deur hulle honde te noem en geweld teen hulle te kan aanhits, ten spyte van ‘n goed deurdagte hofuitspraak wat die gevare en onwettigheid hiervan duidelik uiteensit. “Terwyl die jeugliga steeds probeer aanvoer dat Malema se opruiende uitsprake nie letterlik bedoel word nie, word mense tans steeds letterlik vermoor,” het Kriel gesê.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube