-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
ROOIBERG – ‘n Vermeende renosterstroper is tans onder polisiebewaring in die Polokwane Hospitaal, nadat hy Maandagaand 26 September, deur spoorsnyers gewond is.
Vroeër die dag het Juan Snyman, plaasvoorman van Chris du Plooy se plaas in die Rooiberg omgewing buite Thabazimbi, verdagte voetspore gevind en onmiddellik Machiel Reinecke, Veiligheidsvoorsitter van die betrokke Boerevereniging gekontak. Vandaar het Reynecke die polisie en boere van die omgewing gekontak en is almal gemobiliseer.
Die polisie was binne enkele minute op die plaas en ‘n volskaalse soektog na die verdagtes is geloods.
Hul spore is gevolg tot by ‘n dam waar die renosters gevoer word waar die vermeende stropers hulle vermoedelik sou inwag om te skiet. Die vermeende stropers het snuf in die neus gekry en in aparte rigtings op die vlug geslaan. Skerpgemaakte byle, semi-outomatiese geweer ammunisie, ‘n teleskoop, klere en voedsel is later in die skuiling gevind, waaruit hulle vermoedelik die renosters op die plaas dopgehou het. Spoorsnyers, polisie en boere het die spoor vir sowat 16 uur lank onverpoosd gevolg totdat een van die verdagtes einde ten laaste, na die skietvoorval aangekeer is. ‘n Gelaaide semi-outomatiese geweer en ekstra ammunisie is by hom aangetref. Die vermeende stroper het volgens getuies albei sy bene, een bokant die knie en die ander been onder die knie, in die skietvoorval verloor.
Sy makker kon egter nie opgespoor word nie en daar word vermoed dat hy later dalk deur ‘n voertuig opgelaai is. Geen renoster is geskiet nie.
Indien enigiemand inligting het wat kan lei tot die opsporing van renosterstropers, kontak adjudant offisier KP van Dyk van die veediefstaleenheid by 078 251 0860.
Hierdie “klein” sukses in die massiewe oorlog teen renosterstropery, kan toegeskryf word aan samewerking en kommunikasie tussen boere, wilddiefstal-eenhede en polisie wat onontbeurlik is in die geveg teen wilddiewe.
Almal word bedank vir die enorme poging wat aangewend is om die stropers aan te keer, in die besonder ook Marius de Beer wat sy helikopter gratis beskikbaar gestel het vir die opsporing van die stropers.
- LiN Nuus/Die Kwêvoël
0 Comments