-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Deur Valerie Cilliers
“Die uitdaging is om te verseker dat ‘n renoster meer werd is as wat sy horing werd is. As ons dit kan regkry het ons die stryd gewen,” so meen Pelham Jones, voorsitter van die Renostervereeniging van Suid-Afrika. Noordelike Nuus het met Jones gesels oor die debat wat tans heers rondom die moontlike wettige verkoop van renosterhoring.
Daar is diegene, wat soos Jones, meen dat sodra jy renosterhoringverkope wettig, die uitsonderlike hoë pryse wat dié produk op die swartmark behaal sal daal. Hy glo ook dat indien renostereienaars renosterhorings kan oes om wettig te verkoop, meer renosters in aanhouding beskerm sal word omdat die dier se waarde sal styg. “Daar is baie boere wat glad nie meer met renosters wil teel nie, die risiko is net te hoog,” meen Jones.
Die verkoop van renosterhoring is in 1977 deur CITES (Convention on International Trade in Endangered Species) verban, nadat renosters op die rand van uitwissing was. Dit was egter toe die SA regering in 2009 die verkoop van renosterprodukte plaaslik verban het, dat die swartmarkprys van renosterhoring die hoogtes ingeskiet het. Meer renosters is in 2010 (333) doodgemaak as in die hele vorige dekade.
Met die Beskermingseenheid vir Bedreigde Spesies (Endangered Species Protection Unit), wat in 2003 ontbind is, is SA bykans sonder ‘n instrument gelaat om die vlaag van stropery te beveg. Die eenheid vorm nou deel van die SA Polisiediens se eenheid vir georganiseerde misdaad.
Jones glo dat hierdie faktore daartoe gelei het dat renosters meer waardevol dood as lewendig is. “Ons het ‘n ope mark nodig waar die verkoop van renosterhoring wettig beheer kan word. Daar is natuurlik mense wat meen dat ons nooit in die aanvraag sal kan voorsien nie en dat die oopstel van die mark net ‘n groter aptyt vir renosterhoring sal veroorsaak. Ons weet egter dat daar baie renostereienaars is wat vir ‘n geruime tyd hul renosters onthoring. Sowat 2kg renosterhoring kan elke twee jaar van ‘n renosterbul gestroop word.
Daar is dus reeds ‘n goeie aantal horings wat in die mark ingebring kan word. Daar gaan dan ook jaarliks baie renosters dood aan natuurlike oorsake. Om hierdie horings te beveilig raak al hoe moeiliker. Die antwoord is beslis die wettige verkoop van hierdie produk.”
‘n Verdere strategie volgens Jones is die opvoeding van gemeenskappe in veral Oosterse lande. “Dit is naief om te dink dat mense se kulture nie verander kan word nie. Een honderd jaar gelede het die Engelse, vroue wat van heksery verdink word in mere verdrink. Hierdie kultuur het egter verander, en hierdie tipe praktyke bestaan nie meer vandag nie. Dieselfde kan met die gebruik van renosterhoring vir medisinale doeleindes gebeur. Mense moet geleer word dat renosterhoring geen medisinale voordeel in hou nie, en dat ‘n gewone pynpil beter resultate vir die behandeling van koors sal gee.
Hoewel bewaringsagente soos Jones baie sterk voel oor die wettiging van renosterhoringhandel, moet daar nog baie water in die see loop. Die regering het onlangs aangekondig dat ‘n moratorium op trofee jag van renosters geplaas gaan word. ‘n Taakspan sal ook ondersoek instel na die landswye onthoringing van renosters.
Intussen sterf daar elke 21 uur ‘n renoster in Suid-Afrika.
0 Comments