-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - As deel van die KANSA Cuppa inisiatief het die Lephalale KANSA- tak Saterdag ‘n damestee aangebied. Met pragtige gedekte tafels en heerlike gebak het die vroue van Lephalale die kans gehad om saam te kuier.
Plaaslike kunstenaars Karien van Niekerk en Elana Greyling het die gehoor vermaak met pragtige musiek en voordrag wat die gehoor laat skaterlag het.
Gasspreker vir die geleentheid was die digter Jeanetta Kannenberg, of Saphira soos sy bekend staan. Kennenberg wat weens retinitis pigmetosa haar sig verloor het dig al vandat sy 11 jaar oud is. Sy het reeds drie digbundels gepubliseer en is bekend vir haar “Husse met lang ore” reeks.
Kannenberg het Saterdag vertel hoe sy eendag besluit het om iets te doen wat haar bang maak om daardeur trauma in haar lewe te verwerk. Toe sy hoor dat daar Belly-dancing klasse naby haar huis aangebied word was sy bang genoeg om die geleentheid aan te gryp. Sy was egter nie lus vir Indiese musiek nie en het haar belly dancing op boermusiek leer doen.
Dit is juis dié danse wat sy Saterdag met die vroue van Lephalale kom deel het.
“Ek het natuurlik eers die Here se toestemming gevra en nadat hy baie vir my gelag het, het Hy gesê ek kan maar my belly dancing voor mense doen,” het sy Saterdag vertel. Dat ‘n vrou se sensualiteit ‘n geskenk van God is, dat jy met jou hart moet kyk en nie jou oë nie is maar van die gedagtes waarmee vroue na die verrigtinge huistoe kon gaan om te oordink.
Meer oor Kansa
KANSA is reeds vir 80 jaar aan die voorpunt van die stryd teen kanker in SA en bied holistiese kanker sorg en ondersteuning. Dié nie-regerings organisasie rig vrywilliger-gedrewe omgeegroepe in ‘n dorp op om pasiente en hulle families by te staan. KANSA Lephalale voorsitter, Marika van Zyl vertel dat die KANSA tak weer in April hierdie jaar sy deure in Lephalale oopgemaak. “Ek sal so bly wees as iemand weet van enige Kanker pasient wat nog nie by ons aangemeld is nie sodat ons die pasiënt kan besoek vir ondersteuning.”
Kontak haar by 082 824 6286 of skakel KANSA Mokopane voorsitter Estelle Diederiks by 082 52 08458.
0 Comments