-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - Al is Karien van Niekerk nou maar net ses maande ‘n Bosvelder, het dié vormalige Laevelder al reeds diep in die harte van baie mense in Lephalale ingekruip. As sangeres en motiveringsspreker het Karien al by verskeie damestees en meer onlangs by KANSA se oggendtee opgetree. Met ‘n verskeidenheid van musiek en selfs ‘n kaberet nommertjie of twee, is dit vir elkeen in die gehoor duidelik dat hierdie vrou op ‘n verhoog hoort.
Karien vertel hoewel sy Grafiese Kuns by Wits gestudeer het, sy ‘n voorliefde vir drama en sang het. Sy het in Nelspruit voltyds by Laeveldradio ingeskakel en as verhoogbestuurder van die “kunste kronkel” by Innibos Kunstefees, skuur sy jaarliks skouers met van die bekendste kunstenaars in die land.
Haar man, Rudi, is ‘n professionele jagter en het die geleentheid aangegryp om die Mogol Superspar in Onverwacht te bestuur. Dit is juis om hierdie rede dat hulle saam met hulle twee dogtertjies Rulandi (4) en Elzari (6) Lephalale toe getrek het.
Hier het sy nie op haar laat wag nie en saam met Hennie Pepler en Stompie Venter begin werk aan ‘n vertolking van “Deur Dik en Dun met Dolla”, of soms beter bekend as 3D. Die drie vertrek einde November na die Noord Kaap met ‘n liefdadigheidstoer om 16 bejaarde sentrums en twee hospitale te besoek. "Soveel bejaardes in ons land voel alleen en vergete deur die samelewing en families, en ons boodskap met die uitreik is dat God hulle nie vergeet nie,” vertel Karien.
Dorpies wat besoek gaan word is; Vryburg, Kuruman, Upington, Olifantshoek, Kakamas, Pofadder, Pella, Ageneis, Springbok, Okiep,Namabib, Kamieskroon en Garies.
Sy vertel dat hulle met ou bekende liedjies, ‘n paar tranetrekkers en lekker lag sessies, die bejaardes en siekes gaan vermaak.
"Na ons optrede sal ons afsluit met persoonlike getuienisse van God se liefde.”
Indien jy dit in jou hart voel om enige donasie te skenk, of sommer net hulle toer op te dra in jou gebedslys, skakel vir Hennie by 073 891 6657.
Dalk is jy ‘n gholfer? Ondersteun 3D deur ‘n kaartjie te koop vir R200 en kom in aanmerking vir ‘n ongelooflike prys van ‘n rondte gholf by SunCity.
0 Comments