<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Miljoene gebuit

 
Lephalale distriksbevelvoerder Lt. Kol. Motlafelo Mojapelo gesels met Absa bankbestuurder Karel de Vries Maandagoggend terwyl hulle voor die bank vir ‘n taakspan uit Polokwane gewag het.
News : 14 Oct 2011 271 Viewed By Valerie Cilliers 0

LEPHALALE - Meer as R4 miljoen is Maandag in die vroeë oggendure uit Absa Lephalale se kluis gesteel. Daar word vermoed ‘n groep van vier verdagtes het deur die dak toegang tot die bank gekry en die geld uit die kluis verwyder.
Bankbestuurder, Karel de Vries, het Maandagnag ‘n oproep van die sekuriteitsgroep Fidelity Sekuriteit in Johannesburg ontvang om navraag te doen omdat hulle geen sein van die bank se alarmstelsel kon kry nie. De Vries het na die bank gegaan waar hy en lede van Molalatau Sekuriteit dadelik onraad vermoed het. Volgens sekuriteitspersoneel het voetspore gewys dat sowat vier verdagtes aan die agterkant van die bank na die dak geklim het.
Die perseel is afgeskort en ‘n polisietaakspan van Polokwane is ontbied. Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, Lt. Kol. Ronel Otto, het die verdagtes die kluis met ‘n hoeksnyer oopgesny. Sy het bevestig dat verskeie voertuie op CCTV-kameras geidentifiseer is, en tans ondersoek word.
Volgens Andries Bester van Molalatau Sekuriteit was die rooftog uiters goed beplan. “Telkomlyne is op twee plekke gesny, langs die bank self en ook by die Sasol  Motorhawe-kruising in Onverwacht waar die hooflyn-kabels bymekaarkom vir die Onverwacht sentrale. Dit sou verseker dat die alarmsein nie per landlyn of digitale lyn die beheersentrum in Johannesburg bereik nie.”
‘n Ooggetuie op die toneel het Maandagoggend aan Noordelike Nuus gesê sy het ‘n Telkomvoertuig vroeër Sondagaand in die omgewing gesien. Kort nadat sy hulle opgemerk het is die telefoonlyne van verskeie blokke rondom die Absa bank afgesny.
Die saak word ondersoek en nog geen verdagtes is teen druktyd in hegtenis geneem nie.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube