<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Jaarverslag van die Potgietersrus DLU voorsitter

 
News : 20 Oct 2011 944 Viewed 0

Die situasie met landbou en die regering is een van die grootste faktore wat die voedselsekerheid en veiligheid beïnvloed in ons tyd. Selfs die media is nie altyd die landbou goedgesind nie.
Die minister van Finansies Pravin Gorden het die jaar in Durban by Werkersdagvieringe van die vakbond Fedusa gesê dat Landbou en die Mynbedryf die potensiaal het om talle werksgeleenthede te skep. Dit strook egter nie as ons na die lone situasie sowel as die Groenskrif wat die hoeveelheid grond wat boere mag besit voorskryf, kyk nie. Grond wat aan mense gegee word wat nie produseer nie help die Landboubedryf niks nie. Die boere word al hoe minder en die bevolking meer.
As ons dan na Malema se standpunt byvoeg om landbougrond te vat en te verdeel, is hongersnood oor ’n baie kort tyd ’n groot moontlikheid. Boerdery is ’n besigheid. Boere moet kan produseer en verkoop om hul bedryf aan die gang te hou. Sodoende kan werkskepping plaasvind. Indien boere nie voluit boer nie, raak dit die insetsverskaffers direk. As voedsel skaarser raak betaal die verbruiker noodwendig hoër pryse. Die ketting is lank en baie mense gaan benadeel word.
Die tweede punt is die veiligheid van boere op plase. As ons net na ’n paar punte kyk dan sien ons dat kabel en transformerdiefstal aan die orde van die dag was. Vee- en wilddiefstal is nog ’n probleem.
Renosterstropery het die afgelope jaar ernstige afmetings aangeneem. Daar was die jaar ook plaasaanvalle gewees. Die koste om plase te beveilig is baie duur.
Die feit dat mineraleregte onteien is, gee ook baie probleme. Daar is ’n groot aantal voornemende myngroepe wat die afgelope jaar wou prospekteer en aansoek gedoen het vir mynlisensies. In ons DLU gebied is daar ‘n lang lys van maatskappye wat besig is met aansoeke vir prospektering. Daar is tans groot kommer oor die Sylvannia en Pan Palladium groep wat ’n prospekteerpermit vir die Volspruitmyn ingedien het. Die beplanning is ’n oopgroefmyn. Die hoeveelheid water wat benodig word vir die myn sluit water vanaf Bela-Bela tot op die Springbokvlakte in. Die onmiddelike effek sal wees dat die boere op die Springbokvlakte onmiddelik negatief beïnvloed word. Naboomspruit en omgewing se water sal ook direk negatief beïnvloed word en baie gou uitgeput word.
Die departement van Waterwese wat buitensporige waterrekenings aan boere stuur is nog ’n kwelpunt. Boere word aangeslaan vir water wat hulle nie gebruik nie en verkeerde rekeninge word uitgestuur.
Ons bestuur ook die FPA’s in ons omgewing. Ek doen hiermee weereens ’n beroep op boere om aan te sluit by die brandverenigings. Ons het ook van die Working on Fire-spanne in die veld geplaas. Hulle het die afgelope jaar met groot sukses in ons gebied gewerk.
Daar was ongelukkig brande wat nie gou geblus kon word nie. Daar was egter brande wat betyds met verskeie van ons lede se hulp onder beheer gebring is.
Grondeienaars moet besef dat hulle onder die Brandwet staan en nie net kan brand wanneer hulle wil nie. Daar is reeds verskeie sake wat ondersoek word.
Potgietersrus DLU het die afgelope jaar weer die langste wors gebraai by die Windpompfees. Die dag was ’n hoogtepunt op die DLU se kalender. Die gholfdag wat aangebied is, was weer ’n reuse sukses. Weereens baie dankie aan al die spanne wat deelgeneem het aan die dag. Sonder die betrokkenheid van die insetsverskaffers kon ons nie van die dag ’n sukses gemaak het nie.
Baie dankie aan ons sekretaresse, Renita Prinsloo vir haar reëlings. Dis lekker om saam met haar te werk.
Hiermee wil ek dan vir al die boere wat saam met die DLU gewerk het, die Boereverenigingvoorsitters en die DLU Dagbestuur dankie sê.
Van my en my vrou, Marianne se kant af, wens ons elkeen van u ’n geseënde feesseisoen toe. Mag dit ’n ware Christusfees wees.
- (Verslag verkort, Red.)
- Ockert Scherman

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube