-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Verskeie inwoners en besighede in en rondom Lephalale het hulle harte wyd oopgemaak vir ‘n groep van 10 meisies van die Abraham Kriel kinderhuis in Modimolle. Twee gesinne van N.G. gemeente Ellisras-Wes het die kinders see toe geneem vir die vakansie.Die uitreik is ‘n inisiatief van die N.G gemeente Ellisras-Wes en aangesien huis Matopie die afgelope 10 jaar nie by die see was nie, het kindervriende Ferdi en Debbie Breedt en André en Nelanie Burger aangebied om die kinders see toe te vergesel. Koos en Hannetjie Nel van die N.G. gemeente in Koedoeskop het ook besluit om die lang pad saam met hulle aan te durf.
Nelanie vertel dat donasies vir die uitreik ingestroom het. “Ons het bydraes ontvang vir kruideniersware, verblyf en brandstof. N.G gemeente Thabazimbi en Koedoeskop het ook groot bydrae gemaak. Lizette Perrier, gemeentelid van die N.G gemeente Ellisras-Wes het ook nie op haar laat wag nie en was verantwoordelik vir talle borge.
Regoor die dorp het dames geskenkpakkies begin opmaak en selfs Mej Bosveld 2011, Lee-Ann Botha, het ingespring en bybels asook toiletware geskenk!” vertel sy.
Die tien meisies waarvan sommige nog nooit die see gesien het nie het geleentheid gekry om ‘n krokodilplaas te besoek en Putt-putt te speel. Daar is op ponies en trapbootjies gery, in die Wimpy geëet, gefliek en klere gekoop.
“Dit was ‘n belewenis vir jonk en oud,” vertel Nelanie. “Ons het hoofsaaklik gegaan met die hoop dat ons ‘n positiewe impak op die kinders kon maak, maar daardie pragtige kinders het ‘n groter impak op ons lewens gemaak. Daarom kom die hele huis Matoppie die naweek van 12 November 2011 vir ons hier in Lephalale kuier.”
Lesers wat betrokke wil raak deur finansiëel by te dra, ‘n naweekouer te word of net so nou en dan ‘n oproep te maak voor ‘n eksamen of ‘n netbalwedstryd kan Nelanie kontak by 0829200069.
Caption: Die Breedt, Burger en Nel gesinne saam met die tien meisies van Huis Matopie net voor hulle die langpad see toe aandurf.
0 Comments