-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Polisiebeamptes en lede van die gemeenskap se lewens word daagliks in gevaar gestel weens onvoldoende mannekrag en hulpbronne in die polisiemag. Dit is die mening van verskeie polisie beamptes waamee Noordelike Nuus hierdie week gesels het.“Ons het ‘n groot tekort aan mannekrag en ek voel soms moedeloos omdat ons nie effektief hierdie area kan polisieer nie,” sê Ronel Dickenson, Tom Burke se stasiebevelvoerder.
Met ‘n area van 2 684km2 wat gepatroleer moet word, het Tom Burke polisiestasie volgens Dickenson, slegs twee beamptes per skof.
“Grenspatrollies en plaasbesoeke bly agterweë, ons kan bloot net nie met die hoeveelheid personeel tot ons beskikking genoeg sigbaar wees nie.”
Volgens Dickenson wys statistieke dat die hoeveelheid misdaad in die area nie genoeg is om meer mannekrag te regverdig nie.
“Ons statistieke is glad nie hoog nie, omdat al die sake nie voldoende opgevolg kan word nie, juis omdat ons nie genoeg beamptes aan diens het nie.”
In Lephalale is die situasie skynbaar nie veel beter nie. By ‘n onlangse Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF)vergadering het dit duidelik geword dat die vier sektore (Onverwacht, Ellisras, Marapong en die plase) gereeld deur net twee beamptes per skof beman word. Dit wil voorkom of misdadigers hierdie situasie uitbuit. Alarmstelsels word geaktiveer en sodra die voertuig daarheen jaag word huise in ander gedeeltes van die sektor geteiken.
Polisiebeamptes wat reeds jare in Lephalale diens doen onthou dat daar in die vroeë 90’s ten minste 16 lede per skof, per sektor aan diens was.
Provinsiale woordvoerder, Brigadier Hangwani Mulaudzi sê die provinsiale bestuur is bewus van die personeeltekorte. Volgens hom is die probleem by ‘n onlangse provinsiale bestuursvergadering bespreek. “Ons het by die vergadering bekend gemaak dat ‘n taakspan die personeeltekorte sal ondersoek. Ons het ook aangekondig dat Lephalale met meer voertuie toegerus gaan word.”
Die vraag oor die toestand van voertuie het verlede week aan die lig gekom toe drie polisie beamptes in Mokopane in ‘n motorongeluk dood is. Mulaudzi het bevestig dat die beamptes in ‘n polisie voertuig op pad was na ‘n rooftoneel. Die band het gebars en die voertuig het teen ‘n aankomende vragmotor gebots.
Drie van die vier insittendes: adjudant offisier Madisene Solomon Maimela, sersant Linusa Nghisimono en konstabel Lesiba William Seanego is op slag dood en ‘n vierde offisier is in ‘n erenstige toestand in die hospitaal opgeneem.
Die Mokopane stasiebevelvoerder, Kol Lukas Mogwaneng, kon teen druktyd nie bereik word vir kommentaar nie oor die kwessie nie.
In Tom Burke het Dickenson bygevoeg dat voertuie by hulle ‘n groot probleem is aangesien hulle grootendeels grondpad moet ry. “Uit die twaalf voertuie tot ons beskiking, is slegs vyf tans in gebruik.”
In Lephalale, is daar slegs vier motors wat gebruik word om sektore te patroleer. Noordelike Nuus het verneem dat al die voertuie meer as 400 000km op die afstandmeter het en dat daar dikwels nie genoeg geld in die begroting is om nuwe bande te koop nie.
0 Comments