<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Koshuis nou 'n plakkersnes

 
News : 03 Nov 2011 378 Viewed By Jasper Raats 0

MOKOPANE - Die geboue van die Johan Nel Koshuis wat jare lank ‘n weektuiste was vir plaasseuns wat by Hoërskool Piet Potgieter skoolgegaan het, is nou ‘n vuil plakkersnes. Dit is hierdie week weer op die spits gedryf nadat die hoërskool se beheerliggaam ‘n brief aan die departement van gesondheid gestuur het wat daarop aandring dat die departement ingryp in die haglike omstandigede by dié perseel.
Die gebou is al van 1998 nie meer in die skool se besit nie. Al hoe minder leerlinge het van koshuisinwoning gebruik gemaak en uiteindelik het Hoërskool Piet Potgieter die gebou aan die departement van onderwys teruggegee en die seuns in ‘n aparte vleuel van Elsie Maria Koshuis gehuisves.
Aanvanklik het St. Morgans School die gebou gebruik, maar in 2003 het die Academy for Sports Excellence, ‘n skool wat sokkersterre moes oplewer vir die 2010 Wêreldbeker sokkertoernooi, die perseel oorgeneem.
Teen 2010 was daar egter net verval om te wys vir die meer as R26 miljoen wat deur die opleidingsowerheid vir toerisme, gasvryheid en sport (Theta) op hierdie projek bestee is. Theta Uitvoerende hoof, Mike Tsotetsi en sy finansiële hoof het glo aagehou om geld aan die Academy for Sports uit te betaal al kon die skool nie geouditeerde finansiële state lewer nie.
Die skool se bestuur het van hulle kant af beweer Tsotetsi dwing hulle om geld wat aan hulle uitbetaal word weer oor te betaal aan mense wat hy aangestel het in konsultasie poste en kontrakte.
Hy het die bestuur glo gedwing om R7 miljoen te betaal aan Lerato Makhata, ‘n voormalige Theta-werknemer, wie se maatskappy, Varozwi Management as projekbestuurder van die akademie aangestel is en Jabu Mathebula se maatskappy, Forai Civils, wat opknappingswerk op die perseel moes doen.
Selfs die Mogalakwena Munisipaliteit se omstrede bestuurder van korporatiewe ondersteuningsdienste, Mamagabe Thobejane, word daarvan beskuldig dat hy tot die vermorsing bygedra het.  In hofstukke wat voor die Hoë Hof in Pretoria gedien het verklaar Advokaat A.P. Laka  dat Thobejane die munisipaliteit R860 000 gekos het toe hy die prokureursmagtiging om dié agterstallige bydraes van die Academy for Sports Excellence in te vorder sonder rede gekanselleer het.
Teen 2006 was dit al duidelik dat daar groot probleme is. ‘n Brief uit die departement van onderwys se kantoor in Mokopane het tóé al aan die provinsiale departement aanbeveel dat die skool gederigesteer word aangesien dit nie meer funksioneel was nie. Soortgelyke briewe het jaar-op-jaar gevolg, maar die provinsiale departement het eers in April hierdie jaar stappe geneem om die Academy for Sports Excellence te deregistreer.
Intussen moet Hoërskool Piet Potgieter die gevolge dra. Daar bly nog steeds mense – waarvan baie kinders is - in die vervalle geboue al is daar geen water, sanitêre dienste of elektrisiteit nie.
“Hulle kom breek by ons kriekethuis in en steel elektrisiteit en maak sommer ‘n tuinslang aan ons kraan daar buite die huisie vas. Ons het nou al die kraan geskuif en sluit hom toe,” vertel Piet Potgieter skoolhoof, Jas Hansen. Hy sê hy sien elke dag hoe kinders van die gebou af kom om water by die skool se besproeiingsdam te skep.
Daar loop ook ‘n stroom rou riool vanaf die ou koshuis langs die hoërskool se krieketnette verby. “Ons is bekommerd oor die kinders wat in daardie gebou bly, maar dit raak nou ook ‘n gesondheidsrisiko vir ons eie leerlinge,” sê Hansen.
‘n Afvaardiging van die plaaslike departement van gesondheid het die ou koshuisperseel Maandag besoek, maar teen Woensdag kon die Noordelike Nuus nog geen kommentaar vanaf die departement kry nie – telefoonnommers wat vir die departement gelys is lui sonder antwoord.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube