<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Motorfietsfees vir oupas en oumas!

 
News : 10 Nov 2011 257 Viewed 0

MOKOPANE - Die afgelope naweek se Brille & Pille Wiele Fees was ‘n reuse sukses, selfs beter as vorige jare, sê Bennie Venter, een van die organiseerders van die jaarlikse motorfietssaamtrek ten bate van die Piet Potgieter Monument Tehuis.
Met meer as 270 inskrywings was daar ‘n magdom motorfietsryers van oral oor. Die ryer wat die verste gery het om die fees by te woon is van Botswana. Hy het 480km met sy motorfiets gery om daar te wees.
Vir die dorpsinwoners was die verskeidenheid motorfietse weereens ‘n fees vir die oë. Daar was alles van blinkgepoetste Triumphs en Harley Davidsons tot stokou, effe geroeste ou plaasfietse. Daar was BMW’s van alle soorte, statige Honda Gold Wings, vaartbelynde Aprillas en blitsvinnige Yamaha’s en Suzuki’s.
Na afloop van die massarit deur die dorp, het die bejaardes by die manne en vroue in denim en swart leer aangesluit en is die oues wat daarvoor kansgesien het, op pretritte deur die dorp geneem.
Daarna het ‘n prettige prysuitdeling gevolg en toe kon almal rustig saamkuier en die kosstalletjies, gebak en naaldwerk, teetuin en taverne geniet.
Hoewel die totale inkomste vir die dag teen die Noordelike Nuus se druktyd nog nie getel was nie, glo Venter dat die vorige jaar se inkomste van ongeveer R85 000 hierdie jaar oortref sal word.
“Ons as motorfietsryers het soortgelyke saamtreke op ander dorpe gehou, maar hierdie jaar kon mens oral sien dat die plattelandse ekonomieë maar swaartrek. In Mokopane was dit egter ‘n ander geval – hier het mense ons met oorgawe ondersteun en ons is dankbaar teenoor die motorfietsryers en die dorp se mense,” het hy bygevoeg.
Venter noem ook dat motorfietsentoesiaste hulle gereed moet hou vir ‘n saamtrek by die ou skougronde buite Mokopane in Desember. Hou die Noordelike Nuus dop vir meer besonderhede.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube