<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Marken maak ‘dorp’ skoon

 
Leerlinge van Laerskool Marken.
News : 17 Nov 2011 463 Viewed 0

Betaal die keiser wat hom toekom en gee aan God wat Hom toekom. Matt 22:15. ‘n Preek oor hierdie gedeelte een Sondag in die kerk op Marken het die gemeente tot die besluit laat kom daar geen grense is as jy aan God moet gee wat Hom toekom nie. Hieruit is dat die inisiatief gebore om die rommel in en om Marken op te ruim.
Die gemeenskap het besluit om op Woensdag 9 November die opruiming te doen sonder enige vergoeding, al is dit eintlik die munisipaliteit se verantwoordelikheid. “Ons  lewe immers almal in die tuin van God en om dit skoon te hou is ‘n manier vir ons om aan Hom te gee wat Hom toekom”, was die gedagte wat almal inspireer het.
Met koordineerder Ds. Hannes Peens aan die stuur van sake is die hele gemeenskap betrek, die kerk, die skool, boere, die wildstudiegroep, die padkamp (van die Limpopo department van Paaie en Vervoer) en taxi vereniging. 
Ds. Peens sê dat niemand wat genader is enige negatiewe kommentaar gehad het nie en dat almal die projek met groot entoesiasme begroet het.
Lede van die Uniting Reformed Church of SA en hulle predikant, Ishmail Mabitso,  het al die pad vanaf Steilloop gekom om te kom handgee. “Ons doen dit nie ‘mahala’ nie, ons doen dit vir die Here,” was sy woorde.
Sakke vol rommel is opgetel en die manne van die padkamp het dit weggery na die stortingsterrein op Steilloop. Daar is al boere in die omgewing wat self die rommel in die padreserwe voor hulle plase verwyder, asdromme opsit en die gras kort sny.  Dit lyk baie netjies en die kort gras maak dit veiliger vir padgebruikers.
Almal was dit eens dat die dag baie geslaagd was en dat die spreekwoord: Vele hande maak ligte werk, weereens bewys is. Die mikpunt van die beweging is om al hoe meer mense in die toekoms betrokke te kry en veral ook besighede en groter maatskappye.
Die hoop is dat besighede in die omgewing en plekke soos lodges en jagondernemers dele van die pad sal skoonhou of die skoonmaak daarvan sal borg.
Hulle sal dan sommer die geleentheid kan gebruik om advertensieborde op daardie paddeel op te rig om hul besigheid te bemark. Daar is reeds dorpe in die land waar hierdie stelsel baie suksesvol ingespan word.  Dit skep ‘n baie goeie indruk by toeriste, vakansiegangers en diegene wat deur die omgewing ry. 
Dirk Rosema, een van die vrywilligers en ‘n boer van die omgewing het opgemerk: “Dit is lekker om nou deur Marken te ry, ons is trots op ons dorp.  Om net te sê ‘dit gaan volgende week weer so lyk’, is net te negatief, want dan gaan jy mos ook nooit jou kar was nie! Met die ywer en positiewe gesindheid wat op die dag aanwesig was, kan Marken se mense trots voel op hulself.

- Pikkie Ackerman

 

 

 
 

Hannes Peens, Ishmail Mabitso en Wentzel van Wyk, laai die vol sakke op.
Marietjie Geyser van Marken.
Steven en Carni laai ‘n vrag vol sakke by die padkamp af.
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube