-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Drie werkers op ‘n plaas naby Stockpoort is Saterdagaand omstreeks 20h00 deur agt mans oorval en aangerand. Die werkers wat op Kugestwa Safaris woonagtig is, is deur die rowers gedwing om die kluis in die huis oop te sny. Hulle is herhaaldelik met hammers geslaan. Eienaars Patric en Anso Courie was nie op die plaas ten tye van die voorval nie.
Volgens hulle dogter, Caryn Oberholzer, is slegs die swaar kaliber gewere, ‘n verkyker, selfone en messe gesteel. Oberholzer sê die mans het die huis omgekeer opsoek na geld, maar kon niks kry nie. “Ons hou nie geld op die plaas nie, maar die rowers wou nie die werkers glo nie en het tot die opgestopte diere uitgehol om seker te maak daar is nie geld versteek nie. Die plaas was behoorlik omgekeer.”
Oberholzer het ook aan Noordelike Nuus vertel dat die kluis wat oopgesny is van die beste kluise op die mark is. “Hulle het sonder moeite binne tien minute deur die kluis gesny. Hoe beveilig ‘n mens jou gewere?”
Volgens Lephalale polisie woordvoerder, adjudant offisier Frans Mokoena het een van die werkers gehoor hoe ‘n rower aan sy makker vra: “Sal hy van hierdie geweer hou?”
‘n Voertuig is ook naby die plaas gewaar. Mokoena sê ‘n haelgeweer en ‘n .22 is langs die pad gegooi toe die aanvallers die plaas verlaat. Skote is ook in die lug gevuur. Die saak word ondersoek.
0 Comments